RUGBYNUUS - All Blacks-rugbyklub het die afgelope naweek vir Seagulls by Bridgton-sportterrein met 44 - 41 geklop. Seagulls is die huidige voorloper in die SWD Super B-liga. Die rustydtelling was 25 - 21.
Die wedstryd het met 'n geweldige pas begin met Seagulls wat binne die eerste 10 minute reeds met 14 - 0 voorloop het.
All Blacks kon slegs antwoord met 'n strafskop waarop die besoekers weereens 'n verdoelde drie gedruk het. Tellings 21 - 3.
Met 15 minute oor in die eerste helfte het All Blacks sy wedstrydplan verander en met sy groot voorspelers, Seagulls se verdedigers ingetrek, en is welverdiend beloon met 'n strafdrie om die wedstryd 21 - 10 te maak. Met brute voorspelerdspel het Blacks nog twee drieë gedruk plus 'n verdoelling en strafskop om die rustydtelling op 25 - 21 te staan te bring.
Met die aanvang van die tweede helfte het All Blacks se losskakel, Damian Januarie, die lyn gebreek om onder die pale te druk om die telling na 32 - 21 te rek.
Hierna het Blacks op sy louere gaan rus en van hul suksesplan afgewyk en die bal weer wyd versprei en sodoende foute begaan wat Seagulls uitgebuit het. Kort voor lank was die besoekers met 41 - 32 voor, maar die manne in swart het geweier om te gaan lê en weer teruggekeer na hul taktiek in die eerste helfte wat sukses vir hulle gebring het. In die proses het die tuisspan twee vinnige drieë gedruk plus een verdoelling wat die wedstryd vir die All Blacks beklink het.
All Blacks se voorsitter, Damion Gysman, was dit eens dat as All Blacks sy onoorwonne status wil behou, sy span komende Saterdag hard moet werk aan hul verdediging sowel as beter besluitneming op die dag moet neem.
"As klub vat ons dit wedstryd vir wedstryd, en is ons mikpunt om die eerste rondte, in die topvier te eindig. Saterdag reis ons na Prins Albert waar dit altyd moeilik is om te wen, maar ons hou by ons leuse vir die jaar - United We Stand en Yes We Can."
Puntemakers:
- Damian Januarie (losskakel), Mecashwill Loksen (flank), Howard Goliath (slot), Warren Oliphant (haker) en Tshepo Moopela (vleuel) het agter die pale gaan kuier.
- Strafskoppe Duwayne Januarie en Larry Paulse het elk een strafskop oorgeklits. Paulse het ook twee doelskoppe oorgeskop tesame met Eaj Carew wat suksesvol was met een doelskop.
- All Blacks se B-span wen Seagulls 26-13.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’