OUDTSHOORN RUGBYNUUS - All Blacks het Saterdag in 'n SWD presidentligawedstryd op die Bridgton-sportterrein sy uitstekende seisoen tot dusver voortgesit toe hulle Willowmore United met 22-10 geklop het.
Die besoekers het reeds teen halftyd met 19-3 agter geloop.
Alhoewel die swart truie nie daarin kon slaag om 'n bonuspunt (vier drieë en meer) in dié wedstryd in te samel nie, was hierdie wen van kardinale belang in hul strewe om later in die toernooi vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.
Vir All Blacks het Howard Goliath (slot), Jefnie Kiewiets (losskakel) en Nathan Baartman (vleuel) elk een drie gedruk. Duwayne Januarie (heelagter) was suksesvol met twee strafskoppe en een doelskop. All Blacks was voor Saterdag se wedstryd in agt kragmetings onoorwonne met slegs een nederlaag teen Spring Roses-rugbyklub.
"Dit was duidelik dat die manne vandag oorgehaal was om na hul naelskraapse loesing teen Spring Roses wéér op die wenpad te kom," het Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, gesê.
"Ons fokus verskuif egter nou na ons volgende wedstryd in Prins Albert teen dié tuisspan.
"Prins Albert is 'n gedugte span op hul tuisveld en ons sal op ons allerbeste moet wees om met punte huis toe te kom."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'