OUDTSHOORN NUUS - All Blacks het die afgelope naweek 'n oortuigende oorwinning oor Sedgefield Eagles behaal toe hulle die besoekers in 'n SWD Super B-ligawedstryd met 55 - 20 geklop het. Die wedstryd het by die Oudtshoorn-sportterrein plaasgevind.
In die eerste helfte het Eagles moedig weerstand gebied, maar op kritieke stadiums hanteerfoute gemaak wat hulle uiteindelik van broodnodige momentum beroof het. Teen halftyd was die telling 31 - 8 en dit sou 'n briljante terugvegpoging vereis het as die besoekers van so 'n agterstand kon herstel.
All Blacks het egter ander planne gehad en net verder sout in Eagles se wonde gevryf om die wedstryd uiteindelik met 55 - 20 te wen.
Jason Plaatjies, nuwe aanwins en losskakel vir All Blacks het hierdie seisoen met sy algehele vertoning gewys dat hy 'n speler is wat definitief in die toekoms dopgehou moet word. Dié lang, lenige speler het veral beïndruk met sy skoppe uit die hand uit en sy balverspreiding, spoed en verdediging in sy kanaal, was meer as bevredigend. Plaatjies het uiteindelik vyf strafskoppe oorgeklits.
Vanjaar se SWD-klubliga se reëls bepaal dat die laaste vier spanne in die Super-liga en die boonste vier klubs in die Super A-liga op die punteleer na die eerste ronde teen mekaar in 'n top-8-uitklopreekswedstryde speel.
Die boonste vier spanne in hierdie reeks sal dan volgende jaar na die SWD Super A-liga bevorder word. Alhoewel All Blacks nie 'n slegte seisoen beleef het nie kon hulle ongelukkig slegs 'n plek in Super B-liga verseker. Oudtshoorn se Bridgton en Harlequins is tans die enigste klub in die elite Super A-liga.
Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, het beloof dat sy span volgende seisoen sterker as ooit terug sal keer.
"Ons het vanjaar 'n paar wedstryde verloor, wat ons eintlik moes gewen het, maar ons soek geen verskonings nie. Die talent is daar en ons is tans in 'n herbouproses. Die jong spelers kom goed deur en die oorblywende wedstryde vanjaar sal hulle selfs net meer slyp vir die toekoms," het Gysman gesê.
Die manne in swart se B-span was ook in hul wedstryd teen Eagles baas met 44 - 19 nadat hulle teen rustyd met 24 - 7 voor was.
Collegians teen Uniondale
In nog 'n Super B-ligawedstryd verlede Saterdag het Collegians by die Bridgton-sportterrein in 'n spannende wedstryd met 12 - 17 teen Uniondale verloor. Die rustydtelling was 17 - 0 in die besoekers se guns.
Volgens een van Collegians se bestuurslede, Julian Fielies, was hierdie 'n wedstryd waar swak besluitneming en aanslane hulle waarskynlik die wedstryd gekos het.
"Ons kon geen punte in die eerste helfte aanteken nie, maar in die tweede helfte kon mens sien dat die spelers die afrigters se woorde ter harte geneem het en daarom kon ons sterk eindig met twee drieë en een doelskop. Ons het ook nie toegelaat dat Uniondale verder punte aanteken nie. Dit wys dat as ons van die begin af consistent was, dan kon dinge soveel anders gewees het," het Fielies gesê.
Collegians se B-span het hul wedstryd met 26 - 13 gewen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’