RUGBY NUUS - Duisende Oudtshoorniete het verlede Saterdag opgeruk na Outeniquapark in George met die hoop dat een van hul geliefde spanne, All Blacks of Harlequins, die eindstryd van die SWD Super B-liga wen en in die proses bevorder word na die elite SWD Super A-liga.
Dit was onvermybaar dat iemand se hart gebreek sou word, en in hierdie geval was dit All Blacks wat die knie uiteindelik met 34 - 25 moes buig.
Met hierdie oorwinning het Harlequins 'n tjek van R15 000 ontvang.
Alhoewel All Blacks weliswaar weerstand gebied het, het die swart truie regdeur die wedstryd gespook om hul neuse aan die voorkant te kry, en het mens nooit die gevoel gehad dat hulle op 'n stadium beheer oor die wedstryd geneem het nie.
Die rustydtelling van 17 - 10 weerspieël die realiteit dat die All Blacks van die begin af "catch up rugby" gespeel het.
Hoe dit ook al sy, All Blacks het telkemale 'n manier gevind om te keer dat Harlequins nie totaal en al met hierdie wedstryd weghol nie, en daarvoor moet hulle ook krediet kry. Beide spanne het redelik stabiel in die skrums en lynstane vertoon en mekaar woes uitgedaag by die afbreekpunte, maar dit was die dekverdediging waar All Blacks gereeld probleme gehad het met Harlequins wat hierdie leemte in hul opponente se spel, genadeloos uitgebuit het.
Die feit dat twee Oudtshoorn-spanne vanjaar in die Super B-liga se eindstryd kon speel, is 'n direkte aanduiding dat plaaslike rugby fris en gesond is.
Vir die All Blacks, wat vooraf hierdie wedstryd opgedra het aan hul ontslape agsteman, Sydwell Muller, wat onlangs op die rugbyveld aan vermoedelik 'n hartaanval beswyk het, is dit terug tekenbord toe.
Dit ook nie te vergesog om te voorspel dat All Blacks volgende jaar weer in die uitspeelwedstryde sal speel nie, en wie weet, dalk hierdie keer die finale hekkie oorsteek om by Bridgton-rugbyklub en Harlequins aan te sluit as die derde Oudtshoorn-span tussen die groot honde.
Vir Harlequins was die koelkop-losskakel, Keanen Esau, verantwoordelik vir vier suksesvolle doelskoppe en een strafskop, terwyl die senter, Rhuphino Plaatjies 'n briljante opportunistiese skepskop oorgeklits het.
Die haastige vleuel, Glenwill 'Spoed se Baas' Lewis, Jonathan Gerthwin (senter), Jeandrè Moos (vleuel) en Zinedine Booysen (skrumskakel) het elk een keer agter die pale gaan kuier.
Vir All Blacks het Ashwin 'Biggie' Lucas, Larry Paulsen en Damian Januarie hul harte uitgespeel om 'n paar spelers uit te sonder.
Terug by die huis in Oudtshoorn het die vreugdevure hoog gebrand met veral die gewilde kuierplek "The Warehouse Pub" wat honderde rugbyspelers en ondersteuners gelok het om hierdie geskiedkundige oorwinning te vier.
Vroeër die dag het All Blacks se B-span hul eweknie van Harlequins met 20 - 18 in hul eindstryd verslaan.
All Blacks se losskakel Damian Januarie word omsingel deur spelers van Harlequins.
Jonathan Gerthwin duik sierlik oor vir sy drie.
Vroeër die dag het All Blacks se B-span hul eweknie van Harlequins met 20 - 18 in hul eindstryd verslaan.
Foto's: Ebenezer Titus en Hilton de Laan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’