OUDTSHOORN NUUS - Die All Blacks RFC van Oudtshoorn het Saterdag 23 Augustus 'n moeilike dag op die rugbyveld beleef toe hulle al hul wedstryde teen Riversdal Blues op Blues se tuisveld in Riversdal moes afstaan.
Die drie wedstryde, wat by die Riverville-stadion gespeel is, was vol aksie, maar dit was duidelik dat dit nie die All Blacks se dag was nie.
Die A-span van All Blacks het hul wedstryd teen die Blues afgeskop met goeie intensie, maar is vinnig verras deur 'n warrelwindbegin van die tuisspan.
Die Blues het vinnig punte aangeteken en teen rustyd was die All Blacks reeds 33 - 5 agter. Swak besluitneming en verkeerde opsies het die besoekers duur te staan gekom, aangesien die Blues daarin geslaag het om verskeie drieë uit All Blacks-foute te druk.
Die besoekers het egter in die tweede helfte nuwe energie gevind en twee vinnige drieë gedruk om die telling tot 17 - 33 te verklein. 'n Vierde drie het hoop laat opflikker en die telling op 24 - 38 gebring. Maar weer het 'n fout hulle duur te staan gekom, en die Blues het die eindtelling verseël op 43 - 24.
Hoewel die A-span se tweede helfte belowend was, kon hulle nie daarin slaag om die agterstand uit te wis nie.
Die B-span van All Blacks moes 'n swaar nederlaag verwerk nadat die Blues hulle met 47 - 0 oortuigend geklop het. In hierdie wedstryd het die besoekers gesukkel om enige momentum op te bou, en is deurentyd op die agtervoet gehou.
Die C-span het ook nie beter gevaar nie en moes die knie buig met 'n 33 - 0 nederlaag teen 'n goed georganiseerde Riversdal C-span.
Volgens Damon Gysman moet die span terugkeer na die tekenbord voor hul volgende wedstryd Saterdag teen Eagle Stars van Sedgefield om volgende jaar in die Super A-liga te kan speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’