OUDTSHOORN RUGBYNUUS - 'n Terugvegpoging soos min het All Blacks Saterdag op die Bridgton-sportterrein in staat gestel om Spring Roses in 'n titaniese SWD Presidentsliga-kwarteindstryd op die Bridgton-sportterrein met 28-25 te klop nadat hulle rustyd 'n agterstand van 20-7 moes uitwis.
Hierdie oorwinning het verseker dat die swart truie op koers bly om te kwalifiseer vir 'n plek in volgende jaar se elite SWD Mic Fin Premierliga.
All Blacks het sigbaar senuagtig voorgekom in die eerste helfte en daar was geen teken van die manne in swart se kenmerkende flair wat vanjaar alle teenstand uit hul pad gevee het nie. Om dié wedstryd se rillerstatus te beklemtoon moet dit in ag geneem word dat dit slegs die einste Spring Roses is wat hulle vanjaar in dié liga kon klop - en was dit nie 'n riller nie!
Roses se spelers het daarenteen energiek voorgekom en dit was veral hul balretensie en absolute sekerheid in besluitneming wat van meet af beïndruk het. So het hulle ook eerste bloed geruik toe hul heelagter Roberto Botha met 'n strafskop binne die eerste vyf minute geslaag het.
'n Groot terugslag het die swart truie enkele oomblikke daarna getref toe die skeidsregter hul flank, Adion Klati vir die res van die wedstryd vir ongedissiplineerde spel by die vastelos koelkas toe gestuur het.
Met bykans 70 minute se speeltyd oor en met slegs 14 spelers teen 15, was die skrif so te sê teen die muur vir All Blacks. Roses se haker, CJ Lourens het dié strafskop uitgebuit, en na 'n verwoestende rolmaalbeweging oorgeval vir 'n verdoelde drie wat die telling op 10-0 te staan gebring het.
All Blacks het egter stelselmatig met meer vertroue begin speel en na 'n vloeiende agterlynbeweging kon hul vleuel, Nathan Baartman in die hoekie afgerond vir sy span se eerste punte. Die skrumskakel Vinchenzo Adams het geen fout met die doelskop gemaak nie. Telling 10-7.
Hierdie drie het All Blacks vir 'n wyle laat ontspan - tot hul spyt. Direk na die afskop het Spring Roses se lewendige skrumskakel, Cedric Esau 'n string verdedigers aan die slaap gevang en sowat 25 meter genael vir 'n drie onder die pale. Botha se verdoelling was 'n blote formaliteit en die manne in swart was met die telling op 17-7 van voor af wèèr onder druk. Toe Botha boonop net voor rustyd met 'n reusagtige strafskop van bykans 55 meter slaag wou dit voorkom of die finale spyker in All Blacks se doodskis geslaan is. Rustydtelling 20-7.
In die agtergrond kyk verslae ondersteuners van Spring Roses hoe Ronaldo Janse (plaasvervanger-senter) All Blacks se wendrie in die hoekie druk. Foto's: Wyndham Ewerts
Daar moes sekerlik harde woorde in All Blacks se kleedkamer geval het, want dié spelers het met die aanvang van die tweede helfde soos besetenes begin dryf, verdedig en aanval. Hierdie doelbewuste vreeslose ingesteldheid het dadelik vrugte afgewerp toe die swart truie binne 'n bestek van 10 minute twee verdoelde driee deur Neil Daniels (vleuel) en Everton Manewil (slot) gedruk het.
All Blacks het nou vir die eerste keer voorgeloop in die wedstryd en mens kon dit ook opmerk aan die spelers se liggamstaal. Marlin Tiemie, Spring Roses se vleuel het egter teen die verloop van spel sy span weer nuwe hoop gegee toe hy doodluiters aan die steelkant van die skrum onaangeraak verby All Blacks se verdedigers geglip het. Botha het met dié belangrike doelskop misluk. Telling 25-21.
Damian Januarie (loskakel) word hier vasgevat deur CJ Louens (haker) van Spring Roses.
In die laaste 10 minute het All Blacks sy laaste plaasververvanger-spelers opgestuur wat die wedstryd se tempo aansienlik verhoog het. Een van hierdie spelers, Ronaldo Janse (senter) het met twee minute se speeltyd oor in die hoekie oorgeseil vir die drie wat All Blacks se ondersteuners in vervoering gehad het.
Die senter, JP van Vught het die moeilike doelskop uit die hoek verdoel wat All Blacks vir slegs die tweede keer in die wedstryd laat voorloop het (28-25)- hierdie keer vir goed.
Met die sirene wat kort daarna geloei het moes die skeidsregter die wedstryd afblaas, en het All Blacks se ondersteuners spontaan uit pure uitbundigheid op die veld gehardloop om hul helde geluk te wens met die oorwinning. All Blacks reis aanstaande Saterdag (môre) na Mosselbaai waar hulle in die halfeindstryd van dié toernooi teen die tuisspan te staan sal kom. In 'n SWD Premierligawedstryd het Bridgton-rugbyklub in hul laaste wedstryd van die seisoen Saterdag vir Groot-Brak met 47-42 op die Oudtshoorn-sportterrein verslaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'