OUDTSHOORN NUUS - All Blacks RVK van Oudtshoorn het Saterdag 6 September geskiedenis gemaak toe hulle Riversdal Dorp met 28 - 10 geklop en daarmee hul plek in volgende jaar se Superliga A verseker het. Dié oorwinning, saam met 'n bonuspunt, gee die klub die nodige momentum vir die pad vorentoe.
All Blacks se voorsitter, Damon Gysman, sê die span sal egter harder moet werk om in die topkompetisie mee te ding.
"As ons nie net 'n draai in die Superliga A wil kom maak nie, moet ons regtig nóg meer toewyding en fokus toon," sê hy.
Die klub het 'n lang pad gekom sedert hulle in 2014 uit die Premierliga geskors is.
In 2016 het hulle in die destydse Presidentsliga begin speel, meestal met jong spelers direk van die skoolbank af. Vanaf daardie jaar het All Blacks gereeld half- en eindronde bereik. In 2023 het hulle die eindronde verloor, en in 2024 kon hulle nie vir die Grootuitdaag-kompetisie kwalifiseer nie nadat Seagulls hulle op hul tuisveld uitgeskakel het. Dieselfde seisoen het Happy Hearts hulle ook in die Eerste Liga A se halfeindronde geklop.
Die begin van 2025 het groot onsekerheid gebring toe 22 spelers die klub verlaat het. "Sommige mense het gesê dis die einde van All Blacks. Daar is selfs gespot dat ons deur laerskoolafrigters gelei word," vertel Gysman.
"Maar ons het doelwitte gestel: 'n plek in die topvier in die Eerste Liga A, en dieselfde in die Grootuitdaag-reeks. Ons het dit reggekry."
Volgens Gysman het die spelers se gesonde kompetisie en die span se leuse, Net All Blacks kan All Blacks help, 'n groot rol in hul sukses gespeel.
Hoewel hy huiwerig is om individue uit te sonder, loof hy spelers soos EAJ Carew (skrumskakel), Michael Tyali en Simon Mpofu (flanke), asook die kragspelers Adion Ntlati en Macelist Jaftha. "Maar die hele A-groep het tot dusver soos ysters gestaan," beklemtoon hy.
Die B-span het ook hul wedstryd 19 - 3 gewen en die C-span het 'n wegholoorwinning van 24 - 7 behaal.
Met 'n oorwinning teen Riversdal Dorp, ondanks beserings en 'n onlangse skeidsregterstaking wat hul voorbereidings ontwrig het, het All Blacks weereens karakter gewys.
Nou fokus die span op hul volgende groot toets: Saterdag se tuiswedstryd teen Eagle Stars, waar hulle hul plek in die halfeindronde wil verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’