OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Adias-rugbyklub het verlede Saterdag Swings van Haarlem die stryd aangesê en 'n wegholoorwinning van 39-15 behaal. Dit was hul tweede wen in die Karoostreekliga.
Rustyd het Adias 22-15 voorgeloop.
Lionel Prinsloo, van Adias, het gesê die span het met die skrums in die eerste helfte gesukkel.
"Hilton Bordjies het Bruney Salmans in die tweede helfte vervang en die agttal het hierna veel beter gevaar. Lynstane was egter 'n probleem," het hy gesê.
Agterlangs het Piet Dondas (9), Johannes Wagenaar (11) en Greg Jullies (15) hul opponente laat les opsê.
Dondas se diens agter die skrums was flink.
Greg Julies, Johannes Wagenaar, en Evan Scholtz het elk eenkeer agter die doellyn geëindig terwyl Realdo Muller twee pragdrieë gedruk het. Charlton Prinsloo en Fernando Prinsloo het elk een drie verdoel en ook elkeen een strafdoel deur die pale gejaag.
Adias reis Saterdag na Uniondale. Hul span, White Roses, is 'n nuwe span in die Karoostreek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'