OUDTSHOORN RUGBYNUUS - So naby, en tog so vêr. Dit is hoe Adias se vertoning Saterdag opgesom kan word toe hulle in 'n SWD presidentsligawedstryd teen Prins Albert-rugbyklub op die Oudtshoorn-sportterrein net-net met 33-29 vasgeval het.
Dit is hul derde agtereenvolgende wedstryd in die tweede rondte van dié liga dat hierdie span van Volmoed in die doodsnikke van 'n wedstryd vasval.
Hul vorige wedstryde was teen Spring Roses (31-28) en teen Willowmore (28-26). Alhoewel Adias vyf waardevolle bonuspunte met hierdie drie wedstryde ingesamel het, kon dié span in 11 ligawedstryde vanjaar slegs een wen.
Met slegs vyf wedstryde oor in vanjaar se presidentsliga sal Adias beslis hierdie naelskraapse nederlae in oorwinnings moet omskakel as die span in sy debuutseisoen relegasie na die laer liga (Karoostreek) wil vermy.
Ivan Delport is tans die span se nuwe afrigter, nadat die vorige afrigter (Lionel Prinsloo), vroeër vanjaar aangedui het dat hy eers volgende jaar beskikbaar sal wees om af te rig.
Adias is onder Prinsloo se afrigterskap verlede jaar vir die eerste keer in hul geskiedenis na die SWD presidentsliga bevorder.
Adias beklee tans die tweede laaste posisie op die algehele SWD presidentsliga punteleer.
In Saterdag se wedstryd het Adias binne die eerste 15 minute twee vinnige drieë gedruk waarvan hul vleuel (Charlton Prinsloo) een verdoel het. Die skeidsregter het egter kort daarna 'n strafdrie aan Prins Albert toegeken vir ongedissiplineerde spel by die vastelos deur Adias.
Prins Albert het tien minute later sake gelykop gemaak toe hulle 'n onverdoelde drie gedruk het wat die telling op 12-12 te staan gebring het.
Prinsloo het egter met 'n monsterstrafskop van bykans 55 meter verseker dat Adias die eerste helfte met 15-12 afsluit. In die tweede helfte kon geeneen van dié twee spanne die oorhand kry nie met albei spanne wat twee keer agter die pale gaan kuier het.
Adias het in die laaste minute van die spel met 29-26 voorgeloop en was op koers vir 'n welverdiende oorwinning. Prins Albert het egter die span van Volmoed se ondersteuners se harte gebreek toe hul speler met die laaste beweging van die wedstryd in die hoekie oorgeval het vir die wendrie. Die eindtelling was 33-29. Adias se volgende wedstryd is Saterdag teen Harlequins op die Weermag-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'