OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Oudtshoorn-rugbyklub moes Vrydagaand in 'n SWD Presidentsligawedstryd teen Adias hard swoeg om dié span van Volmoed op die Oudtshoorn-sportterrein met 8-3 te klop. Die eerste helfte het geen punte opgelewer nie met albei spanne wat gedissiplineerd was en hul doellyn jaloers verdedig het.
Tien minute in die tweede helfte het Oudtshoorn se skrumskakel, Gino van Vuuren, nuwe lewe in die wedstryd geblaas toe hy die wedstryd se eerste punte aangeteken het toe hy 'n strafdoel deur die pale gejaag het.
Daar was meteens 'n dringendheid in Adias se spel te bespeur met die span van Volmoed wat verwoed vanaf enige posisie van die veld aangeval het. Hul ondernemingsgees het vrugte afgewerp toe Oudtshoorn 'n strafskop binne reikafstand afgestaan het.
Adias se vleuel, Charlton Prinsloo, het geen fout gemaak met die strafskop nie, met die spanne wat nou met drie punte elk gelykop getrek het. Met slegs vyf minute se spel oor het Oudtshoorn se bonkige flank, Chadwick Niewenhuys, vier verdedigers geklop om 'n skouspelagtige drie te gaan druk.
Alhoewel van Vuuren met die doelskop misluk het, kon dié span die wedstryd in die sakkie steek omdat die skeidsregter direk na sy skop die wedstryd afgeblaas het.
Volgens Lional Prinsloo, Adias se afrigter, is hy trots oor die manier hoe sy span regdeur die wedstryd sy man gestaan het.
Dit is Adias se eerste seisoen in dié liga nadat hy verlede jaar bevorder is na hulle die Karoo-streekliga gewen het.
Dit is Adias se eerste seisoen in dié liga nadat hy verlede jaar bevorder is na hulle die Karoo-streekliga gewen het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'