OUDTSHOORN RUGBYNUUS - So broodnodig soos die reënval die afgelope naweek op Oudtshoorn was, so was hierdie wen vir Adias.
Dit was die reaksie van Ivan Delport, afrigter van Adias, nadat dié span van Volmoed Saterdag in 'n SWD presidentsligaspan Harlequins op die weermag-sportterrein met 15-7 verslaan het.
Adias kon voor dié wedstryd slegs een uit 11 wedstryde vanjaar wen.
"Die een aspek wat vir my uitgestaan het is die manier hoe die manne koelkop gebly het toe Harlequins in die tweede helfte 'n verdoelde drie gedruk het nadat ons teen rustyd met 9-0 voorgeloop het.
"Op daardie stadium was die telling 9-7 en kon die span netsowel paniekbevange geraak het. Ek glo dat ons die afgelope tyd ontsettend baie geleer het in terme van wedstrydbestuur veral wanneer die wedstryd tot op die einde in die weegskaal is."
Charlton Prinsloo, ervare vleuel van Adias, het al sy span se punte (vier strafskoppe en een skepdoel) aangeteken.
Volgens Delport het hy 'n paar posisionele veranderinge aan die span gebring wat Saterdag vrugte afgewerp het." Daar is nou slegs vier ligawedstryde oor in vanjaar se seisoen en ons sal ten minste drie van hierdie wedstryde moet wen as ons nie gerelegeer wil word nie," het hy gesê.
Adias se volgende wedstryd is Saterdag teen Oudtshoorn-rugbyklub op die Bridgton-sportterrein. In nog 'n SWD presidentsliga wedstryd het All Blacks op Prins Albert gelykop (16-16) teen Prins Albert-rugbyklub gespeel. Spring Roses het ook teen Collegians in sy presidentsliga wedstryd gelykop (12-12) gespeel . In
'n SWD Premierliga wedstryd het Bridgton-rugbyklub met 42-32 teen George verloor.
Bridgton se volgende wedstryd is Saterdag (more) teen Heidelberg op die berugte "Never Lose Park" in Heidelberg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'