OUDTSHOORN NUUS - Die immergewilde Zibi-sewestoernooi, wat oudergewoonte deur Bridgton Senior Sekondêr aangebied word, vind vanjaar vir die tiende keer plaas en sal Vrydag en Saterdag (28 en 29 Julie) in Oudtshoorn by Bridgton-sportterrein afspeel.
Veertig verskillende skoolspanne gaan mekaar in die o. 13-seuns- , o. 16-seuns- en o. 19-seuns-ouderdomsgroepe op die rugbyveld die stryd aansê, terwyl daar hierdie jaar weer ‘n kompetisie vir o. 19-meisies plaasvind.
Wedstryde begin reeds 11:15 die Vrydag en duur tot 17:30 . Saterdag se wedstryde begin om 08:30 en eindig 17:30. Al die wedstryde word op die hoofveld oor die twee dae van kompetisie gespeel.
Buiten die opwindende rugbyaksie beplan die skool verskeie trekpleisters soos onder andere ‘n kindertuin met springkastele, speletjies, gesigverf en ‘n kindertafel.
Daar sal ook kosstalletjies beskikbaar wees. Vir die oudleerders en volwassenes is daar ‘n spesiale area, die Alumni-kuiertuin ingerig om die wedstryde te volg en ook lekker te kuier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’