OUDTSHOORN NUUS - Ystervrou Yolandé de Villiers het die afgelope naweek stof in haar teenstanders se oë geskop in die vrouekategorie tydens die jaarlikse 36ONE-fietswedren.
Algeheel het sy in die vyfde plek klaargemaak. Dit was ook haar derde keer dat sy baas was in haar kategorie nadat sy ook tydens 2021 en 2022 se 36ONE-fietswedren, geseëvier het.
Vanjaar was dit die 13de keer dat hierdie wedren deur Dryland Event Management aangebied is en het die fietsryers ouder-gewoonte by Kleinplaas-vakansieoord op Vrydag 24 Mei weggespring.
Deelnemers moes die uitdagende sirkelroete wat 360° om Oudtshoorn beslaan, en 361 km lank is, binne 36,1 uur voltooi. Bekend vir sy uitdagende terrein en pragtige landskappe, lok die wedloop verskeie elite-atlete, organisasies en groepe. Deelnemers ontvang ook 'n spesiale medalje wanneer hulle hul vyfde Full Challenge-wedren voltooi.
Freddie Visser was in die mansafdeling eerste oor die wenstreep met 'n indruk-wekkende tyd van 13 uur, 57 minute en 38 sekondes. Nog 'n plaaslike atleet, Bert Verlinde, het ook sy stempel afgedruk met 'n algehele 4de plek.
Die keuse tussen 'n berg- of gruisfiets bly 'n onderwerp van debat onder fietsryers, met vanjaar se wenner wat 'n bergfiets gekies het, terwyl verlede jaar se oorwinnaar 'n gruisfiets gery het.
Yolande de Villiers, wat vanjaar op haar gruisfiets gery het, het na haar resies gesê dat die keuse aan die begin 'n goeie keuse was, maar dat haar gruisfiets teen die einde van haar wedren nie tot haar voordeel was nie.
"My hande, nek, rug en alles is seer. Maar op die einde van die dag bly dit 'n fantastiese roete," het De Villiers gesê.
De Villiers se fietsryloopbaan het in 2019 'n groot terugslag beleef toe haar linker tibia op vier plekke gebreek is tydens 'n Attakwas Extreme-bergfietswedren.
Sy moes vyf dae in die hospitaal deurbring en het vir maande herstel voordat sy weer aan 'n fiets kon raak. Toe sy uiteindelik weer aktief begin fietsry, was dit nie lank voordat sy weer die een oorwinning na die ander inpalm nie - so asof sy nooit weg was nie - maar inteendeel net sterker geword het.
Dit is hierdie onwrikbare geloof en dissipline in haar sportkode selfs na 'n ernstige besering, wat haar met die gepaste bynaam "Ystervrou" op sosiale media gedoop het - oënskynlik omdat niks haar kan breek nie.
"Jy gaan net van krag tot krag en is voorwaar 'n inspirasie vir ander wat moed opgee. "Baie geluk Yolande, jy bly maar 'n yster op 'n fiets!" was van die vele opmerkings wat gemaak was deur lesers kort nadat die bekend geword het dat De Villiers so wrintiewaar weer gewen het.
So het die fietsryers gevaar:
Mansafdeling
- Freddie Visser - 13:57:38
- Dean Hopf - 14:16:24
- Alexande Henning - 14:34:14
Vroueafdeling
- Yolande de Villiers - 15:35:26
- Nicola Freitas - 17:64:33
- Rebecca van Huyssteen - 18:54:51
Die res van die resultate is beskikbaar by www.the36ONE.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’