OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die Oudtshoorn-fietsryer, Yolande de Villiers (48), het Saterdag vir die derde keer die uitmergelende Momentum Medical Scheme Attakwas Extreme-bergfietswedren se vroue-afdeling gewen. Die wedren word deur Biogen aangebied.
Nog 'n Oudtshoorniet, Matthys Beukes, het vyfde in die mansafdeling geëindig nadat hy deur 'n papwiel gekortwiek is.
De Villiers het van die begin tot die einde van die wedren, wat oor 121km gehou is, die voortou geneem en in 'n tyd van 05:59:23 oor die wenstreep gejaag.
Dit was haar negende deelname aan die Attakwas wat sy ook in 2007 en in 2019 gewen het. Amy Beth McDougall was tweede met Sarah Hill derde en Kelsey van Schoor in vierde plek.
Beukes, wat nou in George woon en reeds twee keer die wedren tussen Oudtshoorn en Groot-Brakrivier gewen het, was weer een van die gunstelinge om eerste oor die wenstreep te jaag, maar sy fiets het ongelukkig tydens die laaste gedeelte van die wedren 'n papwiel gekry en hy het vyfde geëindig.
Die wenner van die mansafdeling was Wessel Botha (22) van Johannesburg in 'n tyd van 04:46:22. Alex Miller van Namibië was tweede met Marco Joubert derde en Gert Heyns in die vierde plek.
Op die manspodium is, van links: Gert Heyns (vierde), Marco Joubert (derde), Wessel Botha (eerste), Alex Miller (tweede) en Matthys Beukes (vyfde). Foto's: ZC Marketing Consulting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'