OUDTSHOORN NUUS - Twee plaaslike gemeenskapsorganisasies, Whack Hype Youth en Saints 23 Unlimited, het verlede Vrydag kragte saamgesnoer om 'n suksesvolle sport-jeugdag uitsluitlik vir die jeug in die hartjie van die Bridgton-woonbuurt aan te bied.
Die tema van die dag was selfversorging- en eiewaarde bewustheid.
Sowat 40 kinders van verskillende ouderdomsgroepe het deelgeneem aan die dag se verrigtinge. As deel van 'n simboliese gebaar om hulself te verbind tot die tema van dié dag, het die jeug hul hande in verf gedruk en teen 'n muur geplak.
Die aktiwiteite van die dag het 'n 10 minute fiksheidsroetine, basketbal-afrigtingskliniek, baldans-vermaak, motiveringspraatjie en 'n skoonmaaksessie van die omliggende omgewing ingesluit. Een aspek wat vir die Oudtshoorn courant gedurende die dag uitgestaan het was die entosiasme van die kinders wat spontaan by hierdie aktiwiteite aangesluit het.
Die baldansers van Eurythmic School of Dancing het ook 'n beker ontvang as blyk van waardering vir hul deelname. Volgens die stigterslid van Whack Hype Youth, Chantè Koelman, het sy besluit om hierdie organisasie op die been te bring om 'n positiewe verandering in terme van waardigheid en loopbaankeuses deur middel van sport by die jeug aan te kweek.
Baldansers van Eurythmic School of Dancing het vir vermaak gesorg.
"Ek glo dat elke persoon waarde tot die gemeenskap kan voeg ongeag hul agtergrond. Vandag se jeug verval baie vinnig in 'n put van hopeloosheid as gevolg van hul persoonlike omstandighede en maak dan verkeerde lewensveranderende besluite wat hulle verder kelder. Ons as Whack Hype Youth se missie is om die selftrots en waardigheid vas te sement in elke kind waarmee ons in aanraking kom sodat hulle kan besef dat 'n blink toekoms vir hulle voorlê mits hulle gewillig is om gebruik te maak van hul God-gegewe talente."
Whack Hype Youth beoog voortaan om elke maand 'n soortgelyke dag in verskillende agtergeblewe buurte met sy eie tema te hou.
Tot dusver funksioneer hierdie twee organisasies uitsluitlik op donasies van die gemeenskap en het hulle reeds tot dusver verskeie kositems, toiletware en ou klerasie ontvang. Hierdie skenkings word dan aan minderbevoorregte kinders in informele nedersettings uitgedeel. Die publiek kan ook dié organisasie se Facebook-blad besoek by @Whackhypeyouth en @SaintsUnlimited indien hulle donasies wil maak.
"Ek is verskriklik dankbaar vir Reginald Anthony van Saints 23 Unlimited se mentorskap om my organisasie se heel eerste projek 'n reusesukses te maak. Ons gaan beslis in die toekoms gereeld saamwerk om ons gemeenskaplike doelwitte te bereik," het sy bygevoeg.
'n Seun leer basketbaltegnieke.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'