Naelloper Usain Bolt gee treë van bykans 2,5 m in lengte wanneer hy in volle vlug is en `n fietsryer wat aan die Tour de France deelneem, verbrand bykans 10 000 kilojoules per dag. Normaalweg benodig mens sowat 2 000 kilojoules om deur die dag te kom.
Dit was van die interessante feite wat deur Shuandre Jacobs en Sarah Chandler Saterdag met sowat 100 afrigters gedeel het. Chandler is `n dieetkundige verbonde aan die Suid-Afrikaanse Sportinstituut in Kaapstad waar die wêreldbekende Tim Noakes aan die stuur staan. Jacobs is verbonde aan die Wes-Kaapse sportakademie waar sy veral fokus op die bestudering van naellopers se hardloopaksie.
Deon Davids, hoofafrigter van die Saru-akademie in George en hulpafrigter van die SA o.20-span tydens die wêreldbekertoernooi, het meer insae gebied in die beplanning wat gedoen moet word ter voorbereiding van deelname aan so `n groot toernooi. Abrie de Swardt, bestuurder van die Eden-sportakademie, het sy ervaringe gedeel na `n besoek aan Glasgow.
Bevin Fortuin, hoofafrigter van die SWD Arende, het meer vertel oor die uitdagings om as oudspeler die oorgang na afrigter te maak.
Garry Hampson, bemoei met die ontwikkeling van krieketafrigters in die provinsie, het ook `n waardevolle praatjie gelewer oor die kwaliteite van `n suksesvolle afrigter.
Dit was die tweede hoëprestasie-werksessie wat deur die Eden-sportakademie aangebied is en De Swardt was Saterdag opgewonde oor die stygende bywoningsgetalle. Afrigters het ook Saterdag die behoefte aan sulke sessies bevestig.
Onder die plaaslike afrigters was Henry Weyers en Damon Gysman (De Villiers Primêr), James Dido en Ekstraal September (Collegians-rugbyklub), John de Laan (Colridge Primêr), Lee-Henry Meyer (Vaardigheidskool), Philloreen Arendze (Bergsig Primêr), Lukhanyo Makula, Siyabulela Nkosana en Joseph Sonti (SWD-krieket).
Die ghoeroes wat hulle kennis kom deel het is, agter van links: Bevin Fortuin, (hoofafrigter van die SWD Arende), Deon Davids, (hoofafrigter: SARU-akademie), Garry Hampson (SWD-krieket afrigtingsontwikkeling) en Martin-John de Vos (SWD-rugbyontwikkeling). Voor van links sit Shuandre Jacobs (Wes-Kaap sportakademie), Abrie de Swardt (Eden-sportakademie) en Sarah Chandler (SA Sportinstituut).Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'