OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die vonke het Saterdag behoorlik by die Oudtshoorn-ovaalbaan tydens die Richard Griessen Klein Karoo - ovaalbaankampioenskappe gespat met talle Oudtshoorniete wat presteer het.
Saterdag se wedren was die grootste in die geskiedenis van die Oudtshoorn-motorklub met streng Covid-19-regulasies wat deurentyd toegepas was.
Motorwedrenntoesiaste kon ook die wedren teen 'n minimale fooi vanuit die gemak van hul rusbank by die huis lewendig kyk.
Volgens een van die organiseerders was dit 'n ope kampioenskap waaraan enige dorp kon deelneem met sowat 152 motors wat in verskillende klasse meegeding het.
Dit het die ontwikkelingsklas, hot rods, heavy metals, 8-silinders, 2.1 modifieds, 1660-klas (A en B-groep), mini, midget (A en B groep), pink divas, V8 (A en B-groep) en stockrods (A en B-groep) ingesluit. Jaers kon ook die wedren gebruik om punte te verdien wat sal bepaal wie later vanjaar as die SWD-kampioen gekroon sal word.
Die volgende motorwedren waarna petrolkoppe kan uitsien is 30 Oktober by die George-skouterrein.
So het Oudtshoorn se jaers in hul onderskeie klasse gevaar:
1660
Burger van der Westhuizen (eerste plek)
2.1 Modifieds
Henties de Villiers (eerste plek)
André Fouche (tweede plek)
Mini-klas
Jeffrey Fouché (tweede plek)
Divan Meyer (derde plek)
Ontwikkelingsklas
Shaun Rheeder (tweede plek)
Christo Beneke (derde plek)
Heavy metals
Kerwyn Muller (tweede plek)
André Keller (derde plek)
1600 Pinkstocks
Chante Elford (derde plek)
1660 Pinkrods
Vicki Meyer (derde plek).
Kerwyn Muller het 'n tweede plek in die Heavy metal-klas verower. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'