KLEIN KAROO NUUS - Die jaarlikse Optimum Meiringspoort-wedlope wat jaarliks in De Rust oor 21,1 km en 12,5 km beslis word sal vanjaar op 10 Oktober tussen 06:00 en 18:00, virtueel plaasvind.
Dit beteken dat atlete vanaf enige plek landswyd in hul eie persoonlike spasie teen hul eie pas sal kan deelneem.
Alle uitslae, videos en foto's van die atlete sal op Facebook en op die Optimum Meiringspoort se amptelike webblad geplaas word.
Soos met baie ander sportsoorte regoor die wêreld is die gewilde wedloop weens die Covid-19-pandemie verbied om onder normale omstandighede plaas te vind.
Daarvolgens het die organiseerders besluit het om vanjaar se marathon virtueel aan te bied sodat organisasies wat jaarliks ondersteuning uit hierdie wedlope geniet, steeds voordeel daaruit kan trek.
Inskrywings open amptelik vanaf 25 Julie aanlyn by www.meiringspoort21.com vir die lojaliteits-atlete van 2019. Die res van die inskrywings is vanaf 1 Augustus om 06:00 beskikbaar.
Alle atlete wat inskryf vir die 21,1km en 12,5km wedlope sal lojaliteit status vir volgende jaar se 2021 Optimum Meiringspoort wedlope verseker. Inskrywingsfooie vir 5 km, 12,5 km of 21,1 km sal R100 per inskrywings beloop.
Algemene reëls:
Atlete se finale tye moet teen Woensdag 14 Oktober op die Optimum Meiringspoort se webblad ingedien word deur op " My Orders" en "Submit Time" te klik.
Deelnemers wat betyds hul tye indien sal 'n virtuele medalje ontvang.
Alle uitslae sal teen 18 Oktober op Optimum Meiringspoort se webblad beskikbaar wees.
Verskeie akkommodasiepakkette van gastehuise- en gasteplase in die De Rust-omgewing sal ook deur deelnemers gewen kan word. Die trekking sal onder toesig van ds. Francois du Plooy en ouditeure plaasvind waarna die wenners persoonlik in kennis gestel sal word.
Alle fondse wat genereer word is ten bate van die NG kerk op De Rust, Herberg Kinderhuis, Covid-19-voedselskema van De Rust en die 2021 Meiringspoort Optimum-wedlope.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'