OUDTSHOORN NUUS - Mario Verwey (37), oudinwoner en voormalige leerder van Langenhoven Gimnasium, het onlangs Oudtshoorn se vlag hoog laat wapper toe hy as die landwye renbaankampioen in die 2.1 klas bekroon is.
Dié petrolkop wat Tygerberg Raceway-motorklub in Kaapstad verteenwoordig, vertel dat hy besonder geëerd voel deur sy prestasie omdat hy vroeër vanjaar vyf uitdunne moes wen om bo aan dié nasionale punteleer te eindig.
"Ek was op 'n stadium met 25 punte agter die voorloper en ek het besef dat ek eenvoudig sal moet uithaal en wys. Om vyf wedrenne na mekaar te wen het my oorwinning soveel soeter gemaak."
Die 2.1 klas renmotor waarin Mario glorie behaal het. Foto's Wyndham Ewerts
Verwey sê dat hy vanweë die hoë koste van die sport in 2000 vir die eerste keer aktief aan motorsport begin deelneem het. "Ek is nie juis goed in enige ander sport nie en petrol vloei maar al die jare deur my are", skerts hy.
"Voordat ek in 2006 weens werkgeleenthede Kaapstad toe verhuis het, het ek op die Oudtshoorn-ovaalbaan geboer waar ek aanvanklik my bestuursvernuf geslyp het." In die 2018/2019 seisoen was hy ook as die klub- en streekkampioen aangewys.
"Ek besef maar terdeë dat die momentum nou aan my kant is en enige een wat die titel aanstaande jaar wil inpalm sal moet jaag laat die vonke spat, het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'