OUDTSHOORN NUUS - "Dit voel so onwerklik." Dit was die reaksie van Phillo Verlaat (26) toe die Oudtshoorn Courant hom vandeesweek gevra het hoe dit voel om as die tyd- en padtoetskampioen by die SA paralimpiese fietsrykampioenskappe gekroon te word en Olimpiesespele toe kan gaan.
Verlaat het verlede week in Pretoria aan dié nasionale fietsrykampioenskappe deelgeneem waar hy goue medaljes in albei afdelings ingepalm het. Met dié oorwinnings het hy gekwalifiseer om in 2020 aan die Paralimpiese-spele in Tokio (Japan) deel te neem.
Volgens hom het hy veral in die 50 km-padwedren sy slag gewys toe hy op dié sirkelroete sy medefietsryers só vêr gewen het dat hy hulle met een van die rondtes weer van agter ingehaal en verbygesteek het.
Verlaat vertel alhoewel hy nou op die golf van sukses ry, dinge nie altyd so rooskleurig in sy lewe was nie.
"Om as gestremd geklassifiseer te word is steeds vir my vreemd, omdat ek die grootste gedeelte van my lewe as 'n normale kind met 'n perfekte liggaam grootgeword het." Sy hele lewe het egter in 2008 verander toe hy in gr.10 in Hoërskool Môrester was. Hy het een oggend 'n beroerte in sy bed gekry wat sy hele bolyf verlam gelaat het. Hy was bykans 'n maand lank in hospitale in George en Oudtshoorn.
"My lyf was verlam en ek moes die skool verlaat. Dit was so erg dat ek skaars uit my eie bed kon klim. Met volgehoue fisioterapie en rehabilitasie oor 'n lang tydperk het my linkerkant se spiere geleidelik volkome herstel. My dokter het egter vir my gesê dat daar niks is wat hulle aan my regterkant kan doen nie, omdat die skade aan dié spiere permanent is."
Phillo Verlaat in aksie tydens een van sy wedrennne. Foto verskaf
Verlaat vertel dat hy op daardie stadium gevoel het dat die lewe onregverdig is, en dat selfdoodgedagtes gereeld by hom opgekom het. maar hy het die dokter verkeerd bewys.
Tydens sy herstelproses het hy vir Denzil Afrika, 'n kranige fietsryer in sy buurt, ontmoet wat hom geïnspireer het om kompeterend fiets te ry.
Kort daarna het Verlaat hom by Lee Arries (onderwyser by Bridgton Senior Sekondêr), se fietsryspan aangesluit, waarna hy ook as lid van die Oudtshoorn-fietsryklub ingelyf is. In 2016 het Headout-fietsryklub hom met volledige fietstoerusting en klere geborg, en van toe af het hy gereeld podiumplekke behaal. Die Wes-Kaapse fietsryvereniging, Eden-akademie en Eden-fietsryvereniging het hom ook mettertyd begin borg.
Sy boodskap aan mense met lewensuitdagings is: ''Jy mag dalk vandag swak voel, maar weet dat jou gees nie swak is nie. Die Here sal jou in geloof versterk,"
Wat Verlaat se prestasie tydens die SA kampioenskappe soveel meer inspirerend maak is dat hy teen fietsryers meegeding het wie se gestremdhede minder is as syne. Hy is 'n C2 gestremde en die teenstanders wat hy in die stof laat byt het was C3 en C4-gestremdes.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'