"Dit is een van die mooiste roetes wat ek al gedoen het. Die roete langs die rivier was die kersie op die koek," het Nelson gesê. "Hier kan 'n mens nie verbyhardloop nie, jy moet soms stilstaan – ek het op 'n klip gesit – en die natuurskoon waardeer."
Nelson was een van 100 atlete wat die afgelope naweek aan die eerste Meiringspoort-veldwedloop (Trail Run) deelgeneem het. Die hardlo-pers het stiptelik om 07:30 op die koel oggend op Barry Meijer se plaas Meijer's Rust weggespring en by die NG kerk op De Rust klaargemaak. Die afsnytyd vir die roete van 14,5 km was 3,5 uur, en almal – selfs die wat gestap het, het die roete binne die voorgeskrewe tyd klaargemaak. Dit beteken egter nie dat dit maklik was nie.
"Ek het nog nooit teen so 'n steil helling 'n veldren begin nie," het Ettienne Plaatjies, algehele wenner in die ope-mans-afdeling wat die 14,5 km in 58:08 minute afgehandel het, agterna tydens die prysuitdeling op die groen gras agter die kerksaal gesê. "Die opdraand was vir my 'n groot verrassing en ek moes daarby aanpas. Maar met die afdraand na die rivier het ek my tweede asem gekry." Volgens hom was die voetpadroete teen die berghang bokant die rivier baie
tegnies en baie moeilik. "Mens moet die heeltyd konsentreer op waar jy jou voete neersit," het hy gesê. Annetjie Botes, wenner van die ope-vroue-afdeling (1:27:26) stem saam dat die bulte baie moeilik was. "Dit is `n roete wat hoë tegniese vereistes stel – die opdraand en afdraand, die klippe en die plekke waar die rivier oorgesteek word, bied baie uitdagings. Maar die pragtige omgewing maak op daarvoor."
Die Meiringspoort-veldwedloop is georganiseer deur die De Rust Striders in samewerking met die NG De Rust-gemeente. "Dit is nie net die gemeente wat betrokke is nie, maar die hele gemeenskap," het Brende Brits, een van die organiseerders gesê. Talle boere van die De Rust-landbouvereniging het gehelp by twee waterpunte en het as beamptes opgetree, en die mediese span wat gereeld saam met Dryland Events Management werk, was ook op bystand. Die borge was Klein Karoo Saad Produksie, De Zeekoe Gasteplaas, Cango Valley Water, Karoo View Cottage, Village Trading Post, Jolanas, Klein Karoo International Leer, Doornkraal, Fernskloof, De Rustica, Ton's Sport, Just Water, Klein Karoo Landmark en OK De Rust. Die hardlopers was dit eens dat hulle volgende jaar Mei weer aan die besondere veldren sal deelneem. Die datum sal later bekend gemaak word.
Wenners mans ope:
1) Ettiene Plaatjies (Nedbank RC SWD - 0:58:08),
2) Gershwil Jacobs (Nedbank RC SWD - 0:58:27),
3) Francois Maquassa (SANW - 01:03:48)
Veterane (40 - 49):
1) Christo Muller (Graaff-Reinet - 01:14:47),
2) Eddie Mouton (Nedbank RC SWD - 01:27:25),
3) Eugene Marais (NBMC Eden SWD - 01:31:02)
Meester (50 - 59):
1) Dirk Joubert (Hartenbos Drawwers - 01:37:52)
2) Riaan le Roux (Outeniqua Harriers - 01:50:36)
3) Rob de Reuck (NBMC Eden - 01:50:54)
Grootmeester (60 +) 1 -GEEN -
Junior (15-19):
1) Francois Maquassa (SANW - 01:03:48)
Jongste atleet:
Francois Maquassa (SANW - 01:03:48)
Oudste atleet:
Dirk Joubert (Hartenbos Drawwers - 01:37:52)
Vroue Ope:
1) Annatjie Botes (Nedbank RC SWD - 01:27:26)
2) Kirsty Weir (Nedbank RC SWD - 01:30:07)
3) Karien Visser-Maritz (Tydelik - 01:36:44)
Veteraan (40 - 49):
1) Karen le Roux (Tydelik - 01:47:38)
2) Renee Moll (Nedbank RC SWD - 01:47:38)
3) Julie Walker (Nedbank RC SWD - 01:48:28)
Meester (50 - 59):
1) Annatjie Botes (Nedbank RC SWD - 01:27:26)
2) Marie-Louise Erasmus (Tydelik - 01:57:33)
3) Nadia Terblanche (RWFL - 01:59:02)
Grootmeester (60+):
Marianne Nelson (Durbanville - 02:44:50)
Junior (15-19):
Heidi Stumpf (Temp - 02:01:10)
Jongste atleet:
Heidi Stumpf (Temp - 02:01:10)
Oudste atleet:
Marianne Nelson (Durbanville - 02:44:50)
Marianne Nelson (70) was eerste in die ouderdomsgroep vroue bo 60. Foto: Tisha Steyn