OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-pluimbalfederasie se span neem van 11 tot 16 Mei aan Pluimbal Suid-Afrika se meesterskompetisie, in Kenilworth, Kaapstad, deel.
Marius van Huyssteen, van Oudtshoorn, saam met spelers van ander dorpe in die Suid-Kaap, is deel van die span.
Van Huyssteen is bekend vir sy vasberadenheid en ervaring, en gaan beslis ’n belangrike rol in die span se veldtog speel. Om die span aan te vul, is ook twee spelers van KwaZulu-Natal (KZN) en die Cape Winelands ingesluit.
Hierdie samewerking onderstreep die sport se vermoë om spelers van oor die land te verenig en te bou aan ’n sterk mededingende gees.
Verder is Janine Kotze van Oudtshoorn ook betrokke, nie as speler nie, maar as deel van die tegniese span. Kotze dien as een van die offisiële skeidsregters en tegniese beamptes tydens die kompetisie.
Die Eden-pluimbalfederasie is opgewonde oor die deelname en hoop om nie net sterk mededinging te bied nie, maar ook die streek se pluimbal te laat skitter op die nasionale verhoog.
Plaaslike sportliefhebbers word aangemoedig om hul ondersteuning aan Marius, Janine en die hele span te wys en hul vordering tydens die week lange toernooi dop te hou op die Cape Winelands YouTube kanaal - www.youtube.com/@CapeTownBadminton
Indien jy belangstel om pluimbal te speel, of meer wil weet oor klubs in Eden kontak Ursula van Huyssteen by 084 503 8481.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’