OUDTSHOORN NUUS - Die nasionale- en president-spanne van die SA jaggeweerskietvereniging het 10 April by die Heja Lodge buitekant Windhoek teen die Namibiese nasionale spanne meegeding in die .223, mans, dames en junior kategorieë. Die geleentheid het begin met 'n inhuldigingsfunksie vir al die skuts wat die eerste keer hul land in nasionale kleure verteenwoordig. Met die alombekende gasvryheid van die Namibiërs het die vure hoog gebrand en is die Suid Afrikaners hartlik welkom geheet.
Eden-jaggeweerskiet is deur agt skuts in hierdie toetsreeks verteenwoordig, met een lid in die Protea-seniorspan, twee mans in die Presidentspan, drie dames in die Protea-vrouespan en twee juniors in die Protea-juniorspan.
Uitslae oor die twee dae is volg:
- Namibië A-span - 8804.9; SA A-span - 8611.2; SA Presidentspan - 8610.2
- Namibië Presidentspan - 7507.8
- SA vrouespan - 6934.1
- Namibië-vrouespan - 5262.4
- SA juniorspan - 7922.6
- Namibië ontwikkelingspan - 4973.5
Die reeks is afgesluit met 'n formele funksie waar al die uitslae bekend gemaak is en medaljes aan die wenspanne uit elke kategorie oorhandig is. Volgens Jacques du Plooy, voorsitter van Eden-jaggeweerskiet, is die vereniging voorwaar trots op hierdie uitsonderlike prestasies van sy lede en wens hulle ook elkeen sterkte toe vir die komende SA kampioenskappe wat einde Mei in die Oos-Kaap plaasvind."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'