OUDTSHOORN NUUS - Die SWD-tweekamp proewe-byeenkoms, om die spanne te kies vir die OP interprovinsiale byeenkoms in Port Elizabeth, vind op Dinsdag 17 Oktober in Oudtshoorn plaas.
Die OP interprovinsiale byeenkoms vind op Saterdag 28 Oktober plaas.
Die SA-kampioenskappe vir 2018, word op 31 Maart in Pretoria deur Gauteng-Noord-twee-kamp aangebied.
Tydens die proewe-byeenkoms op 17 Oktober, sal die jaarlikse SWD-tweekamp algemene jaarvergadering ook gehou word.
Highgate Volstruis-skouplaas is weer die borg vir die Oudtshoorn interprovinsiale-twee-kampbyeenkoms wat op 3 Februarie op die De Jager-sportgronde en by die NA Smit-swembad aangebied word. Agt provinsies sal aan dié byeenkoms deelneem.
Dave van der Walt, voorsitter van SWD-twee-kamp, sê: "Die visie van SWD-tweekamp is om meer as net 'n geleentheid te bied om aan sport deel te neem.
"Dit streef daarna om die deelnemers 'n gesonde lewenswyse te help skep. Vir baie jare later wil tweekamp sien dat daar nog gehardloop en geswem word, maak nie saak of die persoon in Pofadder of Pretoria woon nie."
Tweekamp bestaan uit swem (50 m of 100 m) en baanhardloop (800 m tot 2000 m).
By twee-kamp word die tyd behaal in beide die swem en hardloop in punte omgeskakel (deur middel van 'n gestandaardiseerde puntetabel) en dan vir die totaal bymekaargegetel.
Vanaf die junior veterane word bonuspunte bygereken (ongeveer 15 punte per jaar) vir elke jaar wat die atleet ouer is as die aanvangsdatum. 2000 punte word beskou as 'n billike punt om in aanmerking vir 'n provinsiale span te kom (vyf per ouderdomsgroep), maar die finale besluit word deur die keurkomitee geneem. Vir die 2017/18 seisoen is die o.8-ouderdomsgroep nou deel van die tweekamp ouderdomsgroepe (swem 25 m en 400 m hardloop).
Die ouderdomsgroepe is: o.8, o.9, o.11, o.13, o.15, o.17, o.19, senior of ope (enige ouderdom), junior veterane (27-39), veterane (40-49), senior veterane (50-59) en meesters (60+).
Die SA Kampioenskappe maak ook nou voorsiening vir 'n o.9-groep.
Die afstande | Hardloop en swem:
• o.8: 400 m - 25 m
• o.9 en o.11: 800 m - 50 m
• Seuns o.13: 1 200 m -100 m
• Seuns o.15: 1 500 m - 100 m
• Seuns o.17, seuns o.19 en senior mans (2 000 m - 100 m)
Alle dames en veterane tot senior veterane (1 000 m - 100 m), meesters (800 m - 50 m) en senior meester -65+ (400 m - 50 m).
Die tweekampseisoen strek vanaf September tot April en die ouderdomsgroep word as volg bepaal: die ouderdom wat die atleet op 31 Augustus is, bepaal sy deelname ouderdomsgroep vir die res van die seisoen.
In SWD word verskeie byeenkomste elke seisoen aangebied, naamlik ligabyeenkomste (vier), ontwikkelingsklinieke (vier) asook ten minste twee interprovinsiale byeenkomste. Die byeenkomste roteer tussen George, Oudtshoorn en Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'