OUDTSHOORN NUUS - Die SWDMCA (SWD Majorettes and Cheerleading Association)-kompetisie die afgelope naweek was niks minder as skouspelagtig nie. Geskiedenis is gemaak met die debuut van die heel eerste rasieleierspan (Cheerleading), die PHS Sirens, wat 'n opwindende element in die groeiende sport van trompoppies toevoeg.
Hulle hoë energie roetine is 'n inspirasie vir beide atlete en toeskouers sê Ronald Presher, afrigter van Van Reede se trompoppie-span.
Nog nuus is die bekendstelling van 'n nuwe tersiêre span, die Madibaz Majorettes, wat die Nelson Mandela Universiteit verteenwoordig.
"Hul deelname verhoog nie net die standaard van die kompetisie nie, maar moedig ook volgehoue betrokkenheid by die sport aan."
Volgens Presher was die dag gevul met kleur, energie en aansteeklike entoesiasme.
"Ouers en lede van die groter gemeenskap het in groot getalle opgedaag om hul spanne te ondersteun. Dit het 'n feestelike atmosfeer geskep en spanne in 'n ware gees van sportmanskap bymekaar gebring."
Die Trompoppies- en rasieleiersverenig-ing se nasionale kampioenskappe vind van 4 tot 12 Julie in Oudtshoorn plaas en plaaslike spanne is opgewonde om weer te presteer.
Die SWD-streek is die trotse gasheer vir twee kompeterende ligas:
• Die Eliteliga wat bestaan uit spanne wat voorheen gekwalifiseer het by die nasionale kampioenskappe en op die hoogste vlak kompeteer.
• Presidentsliga waar ambisieuse spanne teen mekaar meeding vir 'n plek in die opkomende nasionale kampioenskappe.
"Met elke kompetisie word die standaard verhoog en die toewyding van die atlete, afrigters, families en toeskouers word die sport net na hoër hoogtes geneem.
SWDMCA het weereens bewys dat die toekoms van trompoppies en rasieleiers in die Suid-Kaap rooskleurig lyk.
Fotogalery: Trompoppies vermaak met hul passies
Vorige berigte:
- Trompoppies skitter by kampioenskappe
- Van Reede-trompoppies maak geskiedenis by wereld en nasionale kampioenskappe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’