OUDTSHOORN NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se veldskietkompetisie wat onlangs op die plaas Nooitgedag in die Oudtshoorn-distrik plaasgevind het, is een wat nie ligtelik vergeet sal word nie.
Nadat die bane op Vrydag voorberei is, het 'n hewige donderstorm wat met sterk wind gepaard gegaan het, van die bane nutteloos gemaak.
Daar moes inderhaas nuwe teikens in Oudtshoorn bekom word, maar hoewel van die voertuie vasgeval het, kon die skuts darem die skietpunte per voet bereik.
Met baie innoverende skietposisies moes die deelnemers drie ghongbane en drie papierteikenbane oor wisselende afstande aandurf.
Uit 'n total van 62 skuts het Darian du Plooy (9) die 19 de plek behaal.
Vir diegene wat onder die indruk was dat hy eintlik nog net groot genoeg was om met 'n windbuks te skiet, het daar inderdaad 'n groot verrassing gewag.
Ook interessant is dat die wenner van die junior-afdeling, Amorette Smit, algeheel 2de was en die wenner van die damesafdeling (Ronel Marx) algeheel 3de.
Die skietdag is geborg deur RAiN Geoktrooieerde-rekenmeesters en hulle waterpunt was 'n wenner en die lafenis van yskoue water op 'n snikhete dag het groot byval gevind.
Die pryse aan die wenners en die groot aantal gelukstrekkings het ook gesorg dat daar 'n bietjie van die hitte vergeet word.
Die volgende skietdag op die SJB-kalender is die SSK Veldskiet wat naby Heidelberg op 9 April sal plaasvind.
Die wenners van die dag was as volg :
Ope-afdeling:
- Hein de Swardt
- Christo Delport
- Raynor Becker
Juniors:
- Amorette Smit
- Marco Marx
- Erik Zeelie
Dames:
- Ronel Marx
- Zoey Botha
- Janine Nigrini
Veterane:
- Johan Fourie
- Hennie Bester
- Piet van Wyk
Penkoppe:
- Darian du Plooy
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'