OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Timber City fietstoer is weereens op hande en spring Sondag 29 September in Baron van Reedestraat tussen Hlangana Lodge en Kleinplaas-vakansieoord weg.
Hierdie fietstoer wat vanjaar vir die negende keer aangebied word, dien ook as 'n senior padwedren vir die Cape Town Cycle Tour (voormalige Cape Argus-toer).
Registrasie kan aanlyn gedoen word by www.cycleevents.com, en ook op Saterdag 28 September tussen 14:00 en 17:00 by Brain's Grill Restaurant.
Die finale registrasie sal Sondag 29 September tussen 06:00 en 07:00 plaasvind waarna die deelnemers om 07:30 sal wegspring.
Hooggeplaastes soos minister van kultuursake en sport, Anroux Marias, en David Beller, hoof- uitvoerende beampte van Cape Cycle Tour, sal ook dié fietstoer bywoon.
Prysuitdeling is 13:00 Sondagmiddag by Brain's Grill. Corné Bence, organiseerder van dié wedren, het 'n beroep op motoriste gedoen om geduldig te wees op die roetes waar die deelnemers sal ry. Hy het ook André van Greunen van Timber City (hoofborg) bedank vir sy ruim bydrae om hierdie fietstoer jaarliks 'n sukses te maak.
Die drie afdelings waarvoor belangstellendes kan inskryf is:
- 107 km tot Matjiesrivier en terug
- 54 km tot Kango-grotte en terug
- 30 km tot Schoemanshoek en terug.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'