OUDTSHOORN NUUS - Tien spanne van agt potspelklubs het Sondag 17 Augustus aan die eerste toernooi van die nuutgestigte Oudtshoorn Blackball Pool Association (OBPA) by Club Images deelgeneem en die geleentheid is in groot getalle ondersteun.
Die klubs wat mekaar die stryd aangesê het en vir groot opwinding gesorg het, is Boys Are Back, The Underdogs, Club Lipstick, 'n mans- en vrouespan van Wicit Six, Soul Reapers, twee spanne van die Vikings, 69 Boys en Restruction.
Die enigste vrouespan, Ilze Klink, Nicolette Mouries, Marietjie Daniels, Marsha Booysen en Mary-Ann Tiemie van Wicit Six het hulle goed van hul taak gekwyt teen die manspanne wat hulle moes aandurf.
Dit was 'n uitkloptoernooi met prysgeld van R1 000 geborg deur Club Images.
Wicit Six het die span van Soul Reapers in die eindstryd met 8 - 5 geklop om met die prysgeld weg te stap.
Volgens die voorsitter van OBPA, Elroy Wicomb, beplan hulle om teen September met ligawedstryde te begin terwyl die organisasie ook reeds na 'n geskikte venue soek waar jongmense aan die sport blootgestel en touwys gemaak kan word.
Die bestuur van OBPA is Elroy Wicomb (voorsitter), Brandon Kamfer (ondervoorsitter), Eugene Coetzee (sekretaris), Vinchenzo 'Boet' Adams (kassier) en Christo Piedt (addisionele lid).
Potspelklubs wat by die OBPA wil aansluit kan Wicomb by 082 497 5748 of Coetzee by 078 127 3453 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’