OUDTSHOORN NUUS - Die skou, teel en versorging van sierduiwe as 'n sportsoort is weer besig om soos in vorige jare, baie gewild onder diereliefhebbers te word. Die klub is vanjaar 57 jaar oud.
Aan die voorpunt van hierdie herlewing is Mario Kapp en Arthur Muller, bestuurslede van die SWD-sierduifklub.
Kapp sê die insluiting van die jeug, wat ook dames insluit, is een van die klub se hooffokuspunte om die klub na ongekende hoogtes te laat groei.
"Soos met enige ander sportsoort, is blootstelling aan verskillende audiences van kardinale belang vir volgehoue groei. Ons wil ook ander dorpe na Oudtshoorn lok om hier te kom kuier saam met hul families. Ons beoog om met ons volgende skou, wat in Junie 2025 plaasvind, meer voete te verwelkom om met plus minus 30 verskillende duiwerasse te skou. Dan is ons visie ook om 'n skou aan te bied wat jaarliks sierduif-vertoners vanoor die land betrek met 'n minimum van 300 duiwe en 30 verskillende rasse. As deel van ons beplanning wil ons voortaan duiwedae hou. Bykomend wil ons in 2026 'n Modena Prestige-skou aanbied waar daar 80 modenas alleenlik op skou sal wees tesame met ander duiwe natuurlik. Baie van die duiwe in ons land, asook ons streek is wêreldklasduiwe wat groot naam maak in die buiteland," sê Kapp.
Mookee-ras
Deelnemers het ook die geleentheid om provinsiale kleure te behaal volgens ’n neergelegde kriteria as teler, beoordelaar en administratiewe beampte.
Die nuutverkose bestuur. Foto’s verskaf
SWD-sierduifklub-bestuur SWD-sierduifklub bestaan tans uit 19 lede.
Die klub het onlangs hul algemene jaarvergadering gehou om 'n nuwe bestuur te kies.
Die nuutverkose bestuur bestaan uit Arthur Muller (president), Mario Kapp (visepresident en jeugverteenwoordiger), Natasha Kapp (tesourier), Monia Muller (sekretaris), Herman Hanekom sr. (senior skoubeampte), Herman Hanekom jr. (junior skoubeampte), Johan Nel (addisionele lid), Chanel Hanekom (bemarking en sosiale media).
Jacobin-ras
Kapp het 'n beroep op die breë publiek gedoen om betrokke te raak in terme van lidmaatskap, borge of donasies.
Die klub beplan om binnekort ’n opedag te hou waar die publiek welkom is om ons duiwe te besigtig waar hulle die werksaamhede en die verskillende rasse eerstehands kan aanskou.
Sierduifvertoners besigtig die verskillende sierduiwe wat verlede jaar in Oudtshoorn ten toon gestel is. Foto: Wyndham Ewerts
Die besonderhede sal later bekendgemaak word. Vir meer inligting kontak Kapp by 071 969 529.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’