OUDTSHOORN SPORTNUUS - Baron van Reedestraat was verlede Sondag 'n miernes van bedrywighede tydens die 12de Timbercity Cycle Tour.
Sowat 394 fietsryers het douvoordag vanaf 07:30 in bewolkte toestande weggespring met die jongste deelnemer wat agt jaar was en die oudste, 'n bloedjong 81 jaar.
FOTOGALERY: 12de Timbercity Cycle Tour
Burgemeester Chris Macpherson, direkteur van die Cape Town Cycle Tour, David Bellairs, Tumi Mohelo en André van Greunen van Timbercity was onder die hooggeplaastes wat hierdie gewilde fietswedren bygewoon het.
Minister Anroux Marais kon weens verpligtinge nie vanjaar se fietswedren soos gewoonlik bywoon nie, maar het beloof om volgende jaar weer op haar pos te wees.
Die afstande waarin meegeding is het die 104 km, 57 km en 30 km ingesluit tesame met 'n 91 km grondpadwedren.
Zareeff Green was die algehele wenner van die 104 km in die mansafdeling gevolg deur Daniel Williams en Faraz Khatieb wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het.
Die vrouewedloop is Jacquelyn Davidoff gewen. Tweede was Anya du Plessis met Jessie Munton wat in die derde plek geëindig het.
Tweede van links is Conrad Holms (tweede), Jaco Davel (wenner) en Damon Terblanche wat in die 91 km grondpadwedren meegeding het. Heel links is Jean Neethling (departement kultuursake en sport).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’