TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewarings-vereniging (SJB) se 30ste algemene jaarvergadering en bestuursverkiesing het op Saterdag 6 November by Laerskool Hartenbos plaasgevind.
Selfs nie beurtkrag kon die entoesiasme tydens die vergadering demp waar Stephen Palos en Riaan Meintjes as verteenwoordigers van CHASA die podium as gassprekers gedeel het nie.
Interessante inligting met betrekking tot die jagbedryf, wildbewaring en die verwikkelinge rondom die vuurwapenwet is met lede gedeel.
Tydens die vergadering is die bestuur vir 2022 verkies en Louis Welman is as president en Wynand Fourie is as voorsitter herkies. Die vertroue in die bestuur is bevestig deur die herverkiesing van al die bestuurslede van 2021. Stephan Lamprecht is as streekbestuurder vir die Riversdal-streek verkies.
Verskeie toekennings is ook tydens die geleentheid gemaak. Die wenners was Niaan Fourie (beste senior skut: skietdae), Anke Kemp (beste junior skut skietdae), Reghardt van Eyk (beste student: Chasa kursus), Ferdi Boll (beste bosbok) en Hardus de Klerk (meeste punte en beste trofee).
Vir meer inligting oor skietdae en kursusse kan die SJB-kantoor by 044 695 2319 gekontak word of besoek die webtuiste by www.suidkaapjagters.co.za of e-posse kan gestuur word na info@suidkaapjagters.co.za.
SJB se bestuur vir 2022 is agter, van links: Fermi Meyer, Len Nel, Natie Fourie, Flip Coetzee en Ferdi Boll. Voor: George Butler, Wynand Fourie, Louis Welman, Christo Engelbrecht en Stephan Lamprecht. Afwesig: Reenen Potgieter, Niaan Fourie, Mias Fourie, Joseph Steyn en Frans Viviers.
Flip Coetzee (bestuurder: senior opleiding) saam met Reghardt van Eyk (beste student: Chasa kursus).
Ferdi Boll met sy toekenning vir beste bosbok saam met Louis Welman en Wynand Fourie.
Anke Kemp (beste junior: skietdae) saam met Louis Welman en Wynand Fourie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'