SUID-KAAP SPORTNUUS - Twee spanne van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) het die voorreg gehad om op 24 September aan 'n interprovinsiale skietkompetisie in Bloemfontein deel te neem. Die jaarlikse kompetisie is deur die Konfederasie van Jagtersverenigings (CHASA) aangebied.
Daar was 18 spanne wat deelgeneem het en die SJB se A-span het 'n algehele tweede plek ingeneem terwyl die veteranespan as die wenners uit die stryd getree het.
Die kompetisie is oor vier uitdagende bane uitgespook en skuts moes ook 'n lastige wind in ag neem. Die gemiddelde temperatuur van die dag was 31°C wat ook die kompetisie bemoeilik het aangesien hittegolwe die trefpunt van ‘n koeël beïnvloed.
Elke span het uit vier lede bestaan. Die A-span se lede was Flip Coetzee, Junita van Zyl, Johan Delport en Henk van Zyl. Die veteranespan is deur Johan Fourie, Niël Basson, Gert van Wyk en Jimmy Farnham verteenwoordig.
Op 13 November vind die gewilde ghonguitdaging naby De Rust plaas en die SJB wil van die geleentheid gebruik maak om lede en nie-lede uit te nooi om deel te neem.
Vir meer inligting kontak Melinda Viljoen van SJB by 044 695 2319. Die dag word weer deur Wildman van George geborg.
Die SJ-veteranespan is van links: Niël Basson, Johan Fourie, Jimmy Farnham en Gert van Wyk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'