TUINROETE VELDSKIETNUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se jaarlikse SSK-veldskiet het die afgelope naweek op die plaas Melkhoutdrift naby Heidelberg plaasgevind.
Die pryse is deur Sentraal-Suid Koöperasie geborg. Behalwe vir die wenners se pryse, was daar ook verskeie gelukstrekkings om vir almal die geleentheid te gun om nie met leë hande huis toe te gaan nie.
Die kompetisie het in ideale weersomstandighede plaasgevind en die wind, wat een van die grootste vyande vir 'n skut kan wees, was gelukkig afwesig tydens die kompetisie.
Skuts van alle ouderdomme het deelgeneem en die oudste skut was Johan Fourie (80) terwyl Inneke van Zyl (10) die jongste skut was wat aangelê na teikens.
Van Zyl het 'n goeie telling behaal en gewys die jonger geslag oor goeie potensiaal beskik.
Die kompetisie het oor ses bane plaasgevind en afstande het vanaf 120 m tot 400 m gewissel. Nadat die laaste skote in die verte verdwyn het, het die deelnemers gesellig verkeer terwyl die uitslae verwerk is.
Lede en nie-lede word uitgenooi na die "Wildman" veldskiettoernooi wat op die 28ste Maart naby Oudtshoorn gaan plaasvind. Vir navrae kontak die kantoor by 044 695 2319 of stuur 'n e-pos na info@suidkaapjagters.co.za.
Die uitslae van die verskillende kategorieë:
Ope afdeling:
Jacques du Plooy (1ste); Raynor Becker (2de); Danie Barnard (3de)
Dames:
Junita van Zyl (1ste); Ronél Marx (2de); Michelle Martin (3de)
Juniors:
Marco Marx (1ste); Erik Zeelie (2de); Marco van Staden (3de)
Veterane:
Jimmy Farnham (1ste); Arthur Lilford (2de); Piet Langner (3de)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'