Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Meeste atlete maak tans gebruik van die vergunningstydperk om fiks te bly. Die verslapping van die reëls bepaal dat mense van 06:00 tot 09:00 soggens met maskers mag oefen of stap. 'n Aantal sportpersoonlikhede van Oudtshoorn het met Oudtshoorn Courant gesels oor hoe hulle tans fiks bly.
John April, bekende atleet van Oudtshoorn, sê hy is verheug om nou weg van die huis af te kan oefen.
"Om buite te kan draf is goed vir my siel, want 'n mens kan net soveel keer om die huis draf en binne die huis oefen," sê hy. "Ek weet dat die lockdown baie atlete se dissipline toets, want dis so maklik om slap te lê en voor jy besef is jou liggaam onfiks.
Vandat die verslapping aangekondig is, stel ek saans my wekker om seker te maak ek is betyds wakker vir 06:00 omdat ek nie 'n sekonde van die drie-uur vrye tydperk wil mis nie."
Fotogalery: Hou jou fiks tydens inperking
Charlissa Schultz een van Oudtshoorn se voorste fietsryers en Protea-fietsryer het op haar beurt gesê dat die vergunningstydperk soos manna uit die hemel is.
"Vir my is dit 'n geleentheid om voluit op die pad te oefen en ook om my fokus te hernu. Ek het ook dié tyd gebruik om aan my fiksheid te werk en te konsentreer op swak punte in my mondering. Dis natuurlik nie so maklik soos gedurende die normale fietsryseisoen nie."
Charlissa het ook 'n binnenshuise virtuele fietsryprogram wat sy aan Swift-platform kan koppel wat haar toelaat om aan internasionale virtuele wedrenne deel te neem. Foto verskaf
Schultz het ook 'n binnenshuise virtuele fietsryprogram wat elektronies aan haar fiets gekoppel is, wat haar toelaat om aan internasionale virtuele wedrenne deel te neem. Volgens haar is dit goeie blootstelling omdat sy haarself teen internasionale ryers kan meet. "Ek het reeds in twee wedrenne podiumplekke behaal en sien uit na die volgende rondes." sê sy.
Vir die blitsige vleuel van Collegians-rugbyklub, Donovan le Roux, is dit "business as usual".
"My hart brand al om op die veld te wees en om die fisiese kontak te voel. Gelukkig is ek van nature 'n persoon wat regdeur die jaar aan my fiksheid werk, so ek het my in elk geval maar besig gehou.
"Met die nuwe vergunningstydperk kon ek nou ontslae raak van my oortollige energie wat ek gedurende lockdown opgebou het. Tans doen ek elke dag strek en gimnasiumwerk. Ek duik ook die arme duiksakke in ons tuin voos."
Collegians het hul laaste wedstryd voor die inperkingstyd teen Spring Roses in 'n opwindende SWD Super-B-liga-wedstryd met 23-19 gewen.
Donovan besig om duiksakke in sy tuin voos te duik. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'