OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Oudtshoorn-sportfees het hierdie naweek afgeskop en die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede week, tydens ’n spesiale seremonie, die program bekendgestel.
Die verrigtinge is gehou in die teenwoordigheid van verskeie belanghebbendes, amptenare en sportliefhebbers. Brian Lucas, assistent sportontwikkelingsbeampte, het as programdirekteur opgetree, terwyl die onderburgemeester, Zoë Tyatya, die amptelike verwelkoming behartig het.
In sy toespraak het Tyatya verwys na die krag van sport om gemeenskappe te verenig en het hy die bekende woorde van Nelson Mandela aangehaal: “Sport het die mag om die wêreld te verander. Dit het die mag om te inspireer. Dit het die mag om mense te verenig op ’n manier wat min ander doen.”
Oudtshoorn-burgemeester Johan Allers, het in sy toespraak die wyer waarde van die sportfees uitgelig. “Hierdie sportgeleenthede skep nie net ruimte vir deelname nie, maar is ook ’n katalisator vir werkskepping en plaaslike ekonomiese groei. Ons moet geleenthede in Oudtshoorn skep wat ’n beter lewe vir ons mense verseker.”
Jean Neethling van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, wat ’n sleutelrol in die befondsing en ondersteuning van die fees speel, het ook die woord gevoer. Hy het sy opgewondenheid uitgespreek oor die fees en gesê dat die departement uitsien na ’n aksiebelaaide en suksesvolle byeenkoms.
Een van die hoogtepunte van die 2025-fees is die Suid-Afrikaanse Majorettes en Cheerleading Vereniging (SAMCA) se nasionale kampioenskappe, wat van 4 tot 11 Julie in Oudtshoorn sal plaasvind.
Johnny Bisschoff, organiseerder van die kampioenskappe, het die deelnemers toegespreek en insig gegee in wat verwag kan word van hierdie grootskaalse sportgeleentheid.
Ian Avontuur, direkteur van korporatiewe dienste by die munisipaliteit, het namens die organisasie almal bedank, van sportklubs en skole tot federasies, borge en vrywilligers.
Die program is as volg:
Vrydag 13 Junie (13:00 - 17:00) en Saterdag 14 Junie (10:00 - 18:00)
- Suidelike provinsie rugbytoernooi (o. 13 Cravenweek)
- Plek: Langenhoven Gimnasium-sportterrein
Saterdag 21 Junie
- Inheemse spele
- Plek: De Jager-sportkompleks
- Tyd: 09:00 - 17:00
Saterdag 28 Junie
- Oudtshoorn veerpyltjie provinsiale kompetisie
- Plek: Skouterrein
- Tyd: 10:00 - 17:00
Sowel as
- Oudtshoorn-sportfees dominokompetisie
- Plek: Thusong-sentrum
- Tyd: 10:00 - 17:00
Vrydag 4 Julie tot 12 Julie
- SAMCA Nasionale kampioenskappe
- Plek: Oudtshoorn-rekreasie sportterrein
- Tyd: 07:00 - 00:00
Vrydag 11 Julie en Saterdag 12 Julie
- Interprovinsiale rolbaltoernooi
- Plek: Oudtshoorn-rolbalklub
- Tyd: 10:00 - 18:00
Saterdag 12 Julie
- Nasionale RGR Klein-Karoo Ovaalbaan-kampioenskappe
- Plek: Oudtshoorn-ovaalbaan
- Tyd: 13:00 - 23:00
Sowel as
- OLFA Topagt-sokkertoernooi
- Plek: Dysselsdorp-sportterrein
- Tyd: 10:00 - 17:00
Dinsdag 15 Julie tot Donderdag 17 Julie
SA Nasionale Jeugfietsrykampioenskappe: 15 Julie
- Plek: Oudtshoorn Quad-klub
- Tyd: 09:00 - 16:00
Criterium: 16 Julie
- Plek: VG Kerk, Bridgton
- Tyd: 09:00 - 13:00
17 Julie
- Plek: Highgate Circuit
- Tyd: 09:00 - 16:00
Vrydag 18 Julie tot Saterdag 19 Julie
- Provinsiale tuimel- en trampolien-gimnastiekkompetisie
- Plek: De Jager-sportkompleks
- Tyd: 08:00 - 18:00
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’