OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn gaan dié naweek, 3 tot 4 Oktober, die hartklop van skopboks wees wanneer die Wes-Kaapse skopbokskampioenskappe in die dorp aangebied word.
Volgens Ranger Grebe van Grebe’s-skopboksklub, wat die geleentheid koördineer, beloof dit om ’n opwindende sportnaweek te wees met van die beste vegters uit die hele provinsie wat meeding vir plekke in die Wes-Kaapse span.
Altesaam 25 lede van die Oudtshoorn-skopboksgroep sal aan die kampioenskap deelneem en hul vaardighede teen topvegters uit ander distrikte toets.
Hierdie provinsiale byeenkoms dien as kwalifiseerder vir die Wes-Kaapse span wat in 2026 aan die SA nasionale skopbokskampioenskappe gaan deelneem.
Tot dusver het sowat 220 deelnemers vanuit vyf distrikte vir die kampioenskap gekwalifiseer.
- Stad Kaapstad
- Weskus-distrik
- Kaapse Wynland-distrik
- Overberg-distrik
- Eden-distrik
Grebe sê die belangstelling in skopboks groei sterk, en hy is trots dat Oudtshoorn dié groot sportgeleentheid kan huisves.
“Dis wonderlik om te sien hoe plaaslike talent op hierdie vlak meeding. Hierdie kampioenskap gee jong en opkomende vegters die kans om hulself te meet teen die beste in die provinsie,” sê hy.
Grebe het verder bevestig dat volgende jaar se SA nasionale skopbokskampioenskappe ook in Oudtshoorn aangebied gaan word, ’n groot prestasie en trots vir die dorp en sy sportgemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’