MOSSELBAAI NUUS - Verlede naweek het die Suid-Kaapse jagters- en bewaringsvereniging (SJB) die laaste baanskiet op die Wouter de Vos-skietbaan buite Klein-Brak aangebied.
Groterkaliberskuts het ingeskryf om mee te ding.
Die baanoffisiere het drie papierteikenbane en een ghongbaan opgestel. Die skuts het in aflosse geskiet, en die teikenafstande het gewissel tussen 35 m en 330 m. Teikens moes uit lê-, sit- en staanposisies getref word.
Die vinnige reënbui wat uitgesak het, het van die skuts benoud gehad, maar nie 'n demper op die goeie sportmangees en gesellige atmosfeer geplaas nie.
Agterop die bakkiekappe het die manne geheime verklap en kennis gedeel oor herlaaimetodes en wapenversorging terwyl daar gewag is vir ander aflosse om klaar te skiet.
Twee van die aflosse het volpunte geskiet en kon nie genoeg hiéroor spog nie!
Daar is baie tyd, harde werk en beplannning ingesit om die skietdae hierdie jaar moontlik te maak. Natie Fourie, die hoofbaanoffisier, het elke offisier wat hand bygesit het, bedank.
"Die feit dat elkeen hulself so goed van hulle taak gekwyt het, het gelei tot waardering en mooi erkenning van die skuts."
Die SJB se algemene jaarvergadering is op Saterdag, 1 November, by die Wouter de Vos-skietbaan gehou.
Voordat die skuts die wapens egter dié jaar neersit, kan hulle nog uitsien na die ghonguitdaging wat op 15 November buite De Rust aangebied word. Navrae: Skakel die kantoor by 044 695 2319 of besoek www.suidkaapjagters.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’