OUDTSHOORN NUUS - Saterdag se Richard Griessen Repairs Klein-Karoo ovaalbaanrenne het 124 renjaers van 12 motorklubs so ver as Pretoria gelok.
Volgens Dirk van der Westhuizen van die Oudtshoorn-motorklub is hierdie byeenkoms een van die grootstes in die land wat deelnemers aanbetref. Van der Westhuizen sê ook dat die byeenkoms jaarliks meer as 2 000 mense van buite na Oudtshoorn lok.
"Ons het Saterdag ongeveer 2 300 toeskouers gehad terwyl ons gewone byeenkomste so tussen 300 en 500 trek." Hy noem ook dat die motorklub al hulle geld ter voorbereiding van die byeenkoms, plaaslik spandeer.
"Alles word plaaslik aangekoop en al die diensverskaffers is plaaslike mense."
Daar was tien verskillende klasse waaraan renjaers in 40 wedrenne deelgeneem het.
Vier renjaers van Oudtshoorn het podiumposisies ingeneem. André Keller het die eerste plek in die Heavy Metal-klas behaal, Herman Hanekom en Juan Heunis was onderskeidelik tweede en derde in die SWD Ontwikkelingsklas terwyl André Nel derde was in die 1660-klas.
'n Botsing waarin twee Oudtshoorn-renjaers se motors ernstig bekadig is. Die Oudtshoorn-motors is die twee naaste aan die muur, Izaan Keller (regs) en Robbie Matthee agter. Foto's: Hannes Visser
Die Midgetklas het vir groot opwinding gesorg. Foto: Pieter Henning
André Keller in die voorgrond, was die algehele wenner van die Heavy Metal-klas. Die motor agter hom behoort aan die seun van die wedrenborg, Richard Griessen.
Ten spyte van die groot aantal deelnemers en sewe ernstige ongelukke was daar net een besering toe 'n renjaer van die Kaap sy voet tydens een van die botsings gebreek het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'