OUDTSHOORN NUUS - "Covid -19 se tentakels groei by die dag en met verwysing na die onsekere toekoms van kleiner sportkodes, begin die rooi ligte al hoe helderder flikker."
So het Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden-tweekamp, die droewige era van die koronavirus en die gevolge daarvan vir sport opgesom.
Volgens Van der Walt baseer hy sy stellings op die riglyne van die mediavrystelling van die nasionale departement van sport, kuns en kultuur soos uitgereik op 20 Junie 2020 vir vlak 3-inperkings.
Hiervolgens kan sportsoorte soos Eden-tweekamp, swem, tennis, driekamp, vyfkamp en atletiek nie hul normale aktiwiteite hervat voordat hulle nie aan hordes riglyne voldoen nie.
Een so 'n riglyn wat Van der Walt bekommerd maak is die regulasie wat bepaal dat sportliggame die nasionale minister skriftelik in kennis moet stel voordat daar enige oefening, wedstryd, toernooi of byeenkoms kan plaasvind. Boonop moet dit binne 14 dae ná die publikasie van voorskrifte ingedien word. "Die minister sal dit dan oorweeg en besluit of dit aan al die riglyne voldoen wat ook weer waardevolle tyd in beslag neem," het Van der Walt gesê.
Van die riglyne sluit onder andere in dat atlete op eie koste privaattoetsing vir Covid-19 moet ondergaan, dat sportterreine en venues voor elke byeenkoms ontsmet moet word, die aanstel van 'n amptenaar wat spesifiek moet toesien dat die protokol gevolg word en idenitfisering van isolasie-lokale.
Van der Walt sê dat dié regulasies ernstige finansiële implikasies vir 'n sportsoort soos tweekamp gaan inhou.
"As 'n mens in ag neem dat die enigste bruikbare Olimpiese standaard swembad op Oudtshoorn geleë is, sal sommige atlete maklik soveel as 360 km per byeenkoms vanaf Plettenbergbaai, Riversdal, Knysna, George, Mosselbaai moet aflê."
Dit alleen, sê hy, is al baie duur en dan kom al die nuwe kostes van toetsing, sifting, mediese bystand en al die ander voorgeskrewe reëls nog by.
"Die geskatte kosteberaming vir 'n tweekampbyeenkoms met 200 atlete sal 'n aardige bedrag beloop, wat vir alle praktiese doeleindes nie haalbaar sal wees nie. Mens moet ook in gedagte hou dat slegs die vervoerkoste waarskynlik sal verdubbel omdat busse nie 100% vol mag wees nie.":
Volgens van der Walt het borgskappe reeds voor Covid-19 afgeneem en die kanse dat daar nou voldoende borgskappe sal wees is te betwyfel. Dit skep 'n donker prentjie vir talle sportsoorte, nie slegs vir tweekamp nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'