OUDTSHOORN NUUS - Swemmers van die Freda Barnard-swemskool, Jancke Potgieter, Jada Coetzee en Nike Griffioen het gedurende die afgelope skoolvakansie uitstekend gevaar tydens Swem Suid-Afrika se vlak 3-swemkampioenskappe wat deur Eden Aquatics by Conville-swembad in George aangebied is.
Potgieter het 'n goue (50 m-borsslag) en bronsmedalje (borsslag) ingepalm, terwyl Coetzee een silwer (rugslag) en twee bronsmedaljes (100 m-rugslag en aflos) losgeswem het.
Griffioen kon daarin slaag om haar persoonlike beste tye te verbeter.
Coetzee het ook onlangs aan die SA skoleswemtoernooi in Pretoria deelgeneem as deel van die Wes-Kaap-skolespan waar sy 'n vierde plek in die 200 m-rugslag behaal het.
Griffioen het die span goed verteenwoordig en het in die 200 m en 50 m-rugslag finale geswem.
Volgens hul afrigter, Delia van Biljohn, het die swemmers uitstekend gevaar as daar in ag geneem word dat 400 swemmers van oor die land deelgeneem het en ook die feit dat hulle nie regdeur die jaar oefen nie.
"Die rede is dat Oudtshoorn nie oor binnenshuise swemfasiliteite beskik soos in ander stede en dorpe nie. Gevolglik kan hulle slegs in die somer oefen en het dus 'n agterstand wanneer die somerseisoen begin.
"Die swemmers het nou 'n kort breuk tot die seisoen weer in Junie begin met 'n binnenshuise swemreeks in Oktober."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'