OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo en Oudtshoorn-posduifklubs se wedvlugduiwe het die afgelope naweek skaflik gevaar nadat hulle Saterdagoggend op Strydenburg losgelaat is.
Van die voorste duiwe wat deelgeneem het het reeds vanaf 12:30 dieselfde dag by hul onderskeie bestemmings gearriveer.
As 'n mens in ag neem dat Strydenburg (Noord-Kaap) sowat 450 km vanaf Oudtshoorn is, is dit veilig om te sê dat die duiwe teen 'n spoed van tussen 80 en 90 km per uur vlieg. Hulle kan selfs nog vinniger vlieg mits die weerstoestande ideaal is, sê Cobus van der Merwe, 'n lid van die Klein-Karoo-posduifklub.
"Eerskomende naweek raak dinge bietjie interessanter wanneer die duiwe vanaf Hopetown (Noord-Kaap) vir 'n prysgeld van R40 000 sal vlieg. Vir die spesifieke resies sal daar vooraf 'n duiweveiling wees waar die manne hul beste spoedduiwe teen die hoogste bod ten toon sal stel. Dit is natuurlik redelik bekend watter ouens gewoonlik goeie spoedduiwe broei - selfs ek het vir my twee duiwe aangekoop vir die resies," skerts Van der Merwe.
Van der Merwe sê dat tegnologie deesdae dinge baie makliker maak. Waar die duiwe in die verlede met 'n rekkie om die been gemerk was, word elke duif nou met 'n elektroniese ring om die been toegerus met data van die duif se volle geskiedenis.
"Hierdie inligting maak die sport ook baie meer kompeterend omdat jy nou selfs onder andere weet wie die duif se ouers is wat natuurlik sy "spoedgene" bepaal. 'n Gesoute duiweman kan sommer met die blote oog sien of 'n duif 'n potensiële wenner is of nie. Dinge soos sy vlerkspan, vaartbelynde bou en sy oë is gewoonlik van die eienskappe waarna gekyk word."
Die deursnee lid wat gewoonlik aan posduifklubs behoort is gewoonlik afgetrede en ouer persone bo 50 jaar wat dit as 'n gereelde stokperdjie beoefen. Daar is egter ook heelwat jonger lede wat deesdae die sport geniet.
Van der Merwe sê met die Covid-19-inperkingmaatreëls is die klubs ekstra waaksaam om hul lede te beskerm. "Standaard Covid-19-veiligheidsreëls soos ontsmetting, temperatuurmeting en die aantekening van lede in ons register wanneer ons lede gewoonlik Donderdagaande die duiwe by die klubhuis kom aflewer, word streng toegepas."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'