OUDTSHOORN NUUS - Morné Pienaar 'n onderwyser verbonde aan Langenhoven Gimnasium het Sondag 19 April aan die Ysterman-kompetisie in Gqeberha deelgeneem.
Net meer as 4 500 atlete van regoor die wêreld het deelgeneem. Dit het ingesluit 500 atlete van Amerika, 367 van Duitsland, 320 van Brittanje en 472 van Suid-Afrika met die res van ander lande. Hierdie jaar was ook die 20ste herdenking van Ysterman-kompetisie in Suid-Afrika.
Pienaar het deelgeneem aan die 3,8 km-swem, 180 km-fietsry en 42,2 km-hardloop. Dit verg deursettingsvermoë, dissipline en 'n sterk wil om die Ysterman-kompetisie aan te pak. Pienaar het 587ste oor die eindstreep gehardloop in 'n tyd van 14:55:51.
Hy het die swemafdeling voltooi in 1:57:06, en die fietsry in 7:46:08.
In gesprek met hom noem hy dat dit 'n ongelooflike ervaring was. "Dit was fisies en geestelik baie uitdagend, maar ook ongelooflik belonend om oor die eindstreep te kom.
"My voorbereiding het maande se toegewyde oefening geverg, en ek is baie dankbaar vir die ondersteuning van my familie, vriende en almal by die skool. Die ondersteuningsnetwerk langs die roete het 'n groot rol gespeel om my deur die moeilike tye gemotiveerd te hou. Vir my gaan dit nie net oor die kompetisie nie, maar ook oor persoonlike groei en om grense te verskuif."
Hy sluit af deur te noem dat daar langs hom op die baan 'n blinde vrou was wat ook deelgeneem het, asook 'n jongman wat met 'n beseerde arm deelgeneem het. "Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het om deel te neem."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’