OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het Shumenè Pienaar van Oudtshoorn te beurt geval na sy gekies is as skeidsregterafrigter vir die SA rugby o. 16- en o. 18-vroue nasionale rugbyweek wat van 30 Junie tot 4 Julie in Johannesburg plaasvind.
Pienaar is tans 'n afrigter vir rugby-skeidsregters (mans en vroue) en wedstrydbeoordelaar binne die SWD-rugbyskeidsregtersvereniging en is die eerste vrou wat verkies is tot die bestuur van die SWD-rugbyskeidsregtersvereniging.
Pienaar, 'n administrateur by Eljada Kairos Skool, is sedert 2022 aktief betrokke by die SWD-skeidsregtersvereniging.
"Ek was van jongs af lief vir rugby en het altyd saam met my pa rugby gekyk."
Hoewel sy nooit self gespeel het nie, het sy haar kennis opgedoen deur verskeie kursusse en die wedstryde wat sy gekyk het.
Sy het ook twee jong skeidsregters, Pat Mario Meyer en Keenan Gertse, onder haar vlerk geneem wat ook gekies is om as skeidsregters by die rugbyweek en Grant Khomo-week op te tree.
"Ek glo in die ontwikkeling van skeidsregters wat selfversekerd, konsekwent en kalm onder druk is. 'n Goeie skeidsregter pas nie net die wette toe nie, hulle bestuur die spel."
Pienaar sê om die eerste vrou te wees wat verkies is tot die bestuur van die SWD-rugbyskeidsregtersvereniging, is 'n groot eer en ook 'n verantwoordelikheid.
"Ek weet dat sigbaarheid saak maak, en ek hoop dat ek deur in hierdie posisie te wees, meer vroue en meisies kan inspireer. Rugby was tradisioneel mansgedomineerd, veral in skeidsregterskap, maar dit verander. Soos baie vroue in sport, het ek skeptisisme ondervind en moes ek my bevoegdheid meer as een keer bewys.
Maar ek glo dat respek verdien word deur konsekwentheid en kennis. Mettertyd erken kollegas en spelers dat jy daar is omdat jy bekwaam is."
Volgens haar is haar fokus op die mentorskap van nuwe skeidsregters en om hulle te help ontwikkel.
"Ek wil 'n meer diverse groep skeids-regters sien wat die spel op alle vlakke verteenwoordig.
Moet nie op die 'perfekte tyd' wag nie. Raak betrokke, stel vrae en hou aan om te leer.
Vertroue kom met ervaring, maar moed begin op dag een. Daar is 'n plek vir almal in rugby."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’