OUDTSHOORN NUUS - Die 14-jarige Peyton Connor, gebore in Oudtshoorn, en agterkleindogter van wyle Frank Wessou van Wessou Meubels, is gekies om in Julie Suid-Afrika tydens die 2025 Dance World Cup in Spanje te verteenwoordig.
Volgens haar ma, Robyn, woon hulle nou in die Kaap, maar is hul wortels diep in Oudtshoorn gevestig.
Peyton se dansloopbaan het begin toe haar ma na Kaapstad verhuis het om verder te studeer. Daar is haar talent raakgesien en sy is ingeskryf by K & J Dance Unlimited, een van die voorste dansinstansies in Suid-Afrika. Dit was hier waar haar talent begin blom het.
In 2023 het Peyton egter 'n moeilike tyd beleef en moes van skool verander en vir 'n tyd lank haar dansskoene opgehang. Maar waar ander sou moed opgee het Peyton vasgebyt en met nuwe krag na die verhoog teruggekeer.
"Sedertdien het sy nie net haar plek op die verhoog herwin nie, maar ook indrukwekkende prestasies behaal. Sy het opgetree in die Artscape en die Baxter-teater, en het in verskeie kompetisies uitgeblink. In 2025 is sy gekies om Suid-Afrika in Spanje, haar vierde uitnodiging na 'n internasionale danskompetisie, te verteenwoordig.
Sy kon egter weens finansies nie die eerste drie bywoon nie, maar ons hoop om haar hierdie keer daar te kry," vertel Robyn.
Van haar hoogtepunte sluit vier eerste plekke in kommersiële en kontemporêre kategorieë in die Dance World Cup 2025 in.
Verskeie nasionale oorwinnings in hip-hop en jazz by die Theatre Dance Association Nationals. Eerste plekke en finale toekennings in solo- en groepsitems by die Eisteddfod in 2024 en SA span keuring.
Robyn Connor, haar trotse ma, sê: "Om Peyton se droom te help bewaar is meer as net 'n internasionale reis, dit is 'n viering van groei, oorwinning oor teenspoed en trots op haar Oudtshoorn-wortels. Ons is hoopvol dat die gemeenskap sal saamstaan en haar help om haar plek op die wêreldverhoog in te neem."
Vir meer inligting kontak Robyn by 082 349 5572.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’