Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die SWD-trompoppie en -rasieleier vereniging het Saterdag 16 Mei sy 2026- kompetisieseisoen op indrukwekkende wyse afgeskop met 'n dag vol energieke vertonings, sterk kompetisie en uitstekende spangees.
Die openingsbyeenkoms het atlete, afrigters en ondersteuners van regoor die streek na 'n stampvol arena gelok waar die nuwe seisoen amptelik ingelui is.
Die atmosfeer was deurentyd elektries, met luidrugtige ondersteuning en groot entoesiasme van die ondersteuners.
Een van die hoogtepunte van die dag was die verwelkoming van twee nuwe spanne tot die SWDMCA-familie, naamlik De Villiers Primêr en Bergsig Primêr. Beide skole het 'n sterk indruk gemaak tydens hul debuutoptredes en is hartlik deur die ander spanne ontvang.
Volgens die hoofbeoordelaar, Ronald Presher, was die standaard van die kompe-tisie besonder hoog.
"Die uitslae het 'n goeie mengsel tussen die spanne getoon, met 'n standaard wat oor die algemeen baie hoog was," het Presher gesê.
Die kompetisie het ook die groei van trompoppies en rasieleiers in die SWD-streek beklemtoon.
Ná 'n suksesvolle 2025-seisoen het plaaslike spanne gewys dat hulle steeds verbeter en die standaard van die sport verhoog.
Organiseerders het hul waardering uitgespreek teenoor atlete, afrigters, beoordelaars, vrywilligers, ouers en ondersteuners vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
Met die suksesvolle afskop van die seisoen sien spanne en ondersteuners reeds uit na die res van die kompetisies wat later vanjaar plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’