OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se eerste padelbane is amptelik geopen.
Yolandi van die Westhuizen, voormalige Protea-vrouekrieketspeler het saam met die Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, tydens ’n spesiale funksie die lint geknip.
Die padelbane is ’n groot droom wat verwesenlik is. Van der Westhuizen tesame met haar vennoot, Ilze van der Westhuizen, het die potensiaal vir die sport raakgesien en besluit om die projek aan te pak. Die afgelope paar maande het die bane begin gestalte kry.
Die bou van die bane was ’n groot tegniese onderneming wat spesiale glasmure, kunsgras en beligting behels het. Die installasie is deur ’n gesertifiseerde span gedoen. Die padelbane is in samewerking met die bestaande tennisklub op die perseel gebou, en die projek is inklusief en gemeenskapsgerig.
“Dit is ’n droom wat waar geword het en ’n sport wat met ope arms in Oudtshoorn verwelkom is,” noem Van der Westhuizen.
Allers het tydens sy toespraak genoem dat sport baie belangrik is vir toerisme, asook die ekonomie van die dorp. “Ek sal altyd sport ondersteun en die nuwe padelbane is ’n groot aanwins vir sport, asook vir Oudtshoorn.”
Padel is die vinnigste groeiende sport in die wêreld en het inwoners in Oudtshoorn reeds die opwindende tendens aangegryp. “Ons werk op ’n aanlyn besprekingsbasis en is ons reeds baie besig,” verduidelik Van der Westhuizen. Spelers kan plek bespreek via die Playtonic-app of op Oudtshoorn-padel se webtuiste.
Die Vitality-besigheidsliga skop ook af en het heelwat besigheidspanne reeds ingeskryf.
Maar wat presies is padel?
Padel ’n kombinasie van tennis en muurbal. Jy speel met ’n soliede raket, en die bal mag van die glasmure af bons. Dis vinnig, pret en sosiaal. Jy speel altyd in dubbels. Enige iemand kan dit aanleer, jy hoef nie ’n sportagtergrond te hê nie. Padel is geskik vir alle ouderdomsgroepe en fiksheidsvlakke, van jong kinders tot ouer volwassenes, en dit is maklik om aan te leer.
Besprekings om te speel
Diegene wat wil speel kan besprekings maak op die Playtomic-toep.
- Maak die Playtomic-app oop
- Soek vir Oudtshoorn Padel
- Tik op “Kompetisies”
- Kies jou geleentheid en sluit aan!
Program vir 9 - 15 Februarie
Maandag:
- Gemengde spel (07:00 - 08:30)
- Mans: (15:00 - 16:30)
Dinsdag:
- Gemengde spel: (09:00 -10:30)
- Vroue: (18:00 - 20:00)
Woensdag:
- Pensioenarisse: (10:00 -11:30)
- Warriors: (17:00 - 18:30)
Donderdag:
- Gemengde spel: (18:30 - 20:00)
Vrydag:
- Dames: (08:30 - 10:00 )
- Familie gemeng: (18:30 - 20:00)
Saterdag:
- Dames: (08:00 - 10:00)
- Mans: (10:00 - 12:00)
- Valentines Mixed Americano: (18:00 - 20:00)
Vorige berig:
Eerste padelbane vir Oudtshoorn
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’