OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn gaan binnekort sy eerste padelbane hê danksy die inisiatief van die bekende voormalige Protea-vrouekrieketspeler, Yolandi van der Westhuizen.
Sy het, saam met haar vennoot, Ilze van der Westhuizen en 'n passievolle belegger wat die potensiaal van die sport raakgesien het, die projek van stapel gestuur. Hulle visie was om iets nuuts en dinamies aan die dorp se sportlandskap toe te voeg.
Die padelbane word in samewerking met die bestaande tennisklub op die perseel gebou, en die projek is inklusief en gemeenskapsgerig. "Padel is die vinnigste groeiende sport in die wêreld. Ons het gevoel dit is tyd dat Oudtshoorn ook deel raak van dié opwindende tendens. Die dorp het soveel sportliefhebbers en 'n sterk gemeenskapsgevoel daarom is dit die perfekte plek," sê sy.
Volgens haar is die bou van die bane 'n groot en tegnies-gefokusde onderneming wat spesiale glasmure, kunsgras en beligting behels.
"'n Gesertifiseerde span is verantwoordelik vir die installasie, en die projek behoort ongeveer 8 tot 10 weke te duur. Die span beoog om teen middel Oktober oop te wees vir die publiek, met 'n formele bekendstellingsgeleentheid wat kort daarna sal volg."
Maar wat presies is padel?
"Dis 'n kombinasie van tennis en muurbal (squash)," verduidelik Van der Westhuizen. "Jy speel met 'n soliede raket, en die bal mag van die glasmure af bons. Dis vinnig, pret en sosiaal. Jy speel altyd in dubbels. Enige iemand kan dit aanleer, jy hoef nie 'n sportagtergrond te hê nie."
Padel is geskik vir alle ouderdoms-groepe en fiksheidsvlakke, van jong kinders tot ouer volwassenes, en dit is maklik om aan te leer. "Die meeste mense is binne die eerste sessie al verslaaf!"
Die belangstelling onder plaaslike inwoners, skole en sportklubs is reeds merkbaar.
Daar word beplan om sosiale speeldae, ligas vir verskillende vaardigheidsvlakke en spesiale toernooie aan te bied. Mense sal nie lede hoef te wees om te speel nie, alles sal aanlyn via die Playtomic-toep bespreek kan word.
Daar is ook reeds gesprekke met skole om jeugontwikkelingsprogramme aan te bied, met die droom om jong spelers die geleentheid te gee om te groei en dalk selfs in kompetisies deel te neem.
Hoewel sy bekend is vir haar indruk-wekkende krieketloopbaan, sê Van der Westhuizen het padel haar hart gesteel.
"Ek sal altyd 'n liefde vir krieket hê, maar padel het my verras met sy energie en gemeenskapsgevoel. Dit is 'n nuwe avontuur, en ek is ongelooflik opgewonde om dit in Oudtshoorn te deel."
Jacques de Beer, voorsitter van die Wesbank-tennisklub is opgewonde oor die toevoeging tot sport in Oudtshoorn. "Dit is lekker om hande te vat met 'n professionele sportpersoon en sien ons uit na die eerste padelbane in Oudtshoorn.
"Dit gaan beslis 'n positiewe inspuiting vir sport in Oudtshoorn wees en kan oud en jonk die sport beoefen.
"Ons sien 'n goeie toekoms met die projek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’