OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die eerste 70,3 Halwe Ironman-kompetisie het in Mosselbaai op 6 November plaasgevind.
Agt Oudtshoorniete het aan hierdie uitdagende wedren deelgeneem. Volgens hulle was 44% van die atlete eerste Ironman-deelnemers en 30% van die atlete was vroue.
"Hierdie wedren was baie goed georganiseer en ons het energie van die toeskouers geput, gesels Pieter Gers, een van die deelnemers.
Inskrywings vir die wedren het in Maart geopen en hulle het nagenoeg drie tot ses maande vir die wedren voorberei om die 90,1 km-fiets, 1,9 km-swem en 21 km af te lê.
Vriende wat vir maande op 'n WhatsApp-groep gesels het deur mekaar te ondersteun en raad te gee oor oefenprogramme, het vir die eerste maal saam as 'n groep bymekaar gekom vir 'n foto.
"Ons was saam deur hierdie uitdagende wedren en dit maak dat ons 'n besonderse vriendskap met mekaar deel," vertel LeRoux van Dyk, deelnemer aan die Ironman-kompetisie.
Hierdie was die eerste 70,3 Halwe Ironman-kompetisie waaraan hulle deelgeneem het, behalwe vir James Schuin, hy het al een in Gordonsbaai, ses in Port Elizabeth, een in Oostenryk en een in Australia afgelê - beslis indrukwekkend volgens die reaksie van die ander sewe atlete.
Die atlete het die volgende tye behaal:
- Phillip du Plessis - 8:14 - "Hierdie was 'n awesome maar tough wedren."
- Casper du Plessis - 7:02
- Heinrich Boje - 7:20
- Marius Botha - 6:01:50 - "Uitstekende event gewees."
- James Schuin - 7:27
- Zani Smith - 6:48 - "Ek het elke oomblik geniet."
- Pieter Gers - 7:01 - "Hard maar baie lekker."
- Le Roux van Dyk - 7:20
Wanneer jy hulle vra of hulle dit weer sal doen, is die antwoord 'n besliste, "ja", maar ons sal nie sommer 'n volle Ironman voltooi nie - tyd vir oefen is baie beperk.
Voor, van links: Phillip du Plessis, Casper du Plessis en Heinrich Boje. Agter: Marius Botha, James Schuin, Zani Smith, Pieter Gers en LeRoux van Dyk. Foto: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'