OUDTSHOORN NUUS - Sedert die Oudtshoorniet Susan White, meer as 'n jaar gelede na Abu Dhabi verhuis het, maak sy groot opslae, veral in die sportwêreld. White en haar man, Eben, het onlangs intensiewe opleiding ondergaan as wedrenbeamptes (herwinningspan) tydens die internasionale Formule 1 se laaste resies in Abu Dhabi verlede week by die indrukwekkende Yas Marina-resiesbaan.
Volgens White is hulle die eerste Oudtshoorniete wat al deel was van die herwinningspan-personeel sedert die eerste F1-resies na Abu Dhabi in 2007 gebring is. Om die kroon te span, was sy ook die enigste vrou wat al ooit diens gedoen het by die Abu Dhabi-herwinningspan.
Die werk self behels dat die herwinningspan die wrakke van die renmotors moet opruim, en ook die renmotors wat teen die veiligheidsmure gebots het, van die veld verwyder.
Vir hierdie prosedure sal die wedrendirekteur met 'n rooi vlag aandui dat die wedren dadelik gestop word en die motors by 'n aangewysde area moet parkeer totdat die resiesbaan weer skoon is van enige wrakstukke in hul pad.
Die herwinningspan, wat om elke draai van 'n renbaan ontplooi word, se werk begin gewoonlik die Vrydag tydens FP1 (Free Practice 1) waarna die tweede oefensessie (FP2) dieselfde dag, 'n paar uur later sal volg. Saterdae is dit tyd vir die FP3 waarna kwalifiseringsrondtes vir die vinnigste tye begin om te bepaal in watter volgorde die renjaers sal wegspring.
White vertel dat dit altyd hulle droom was om betrokke te raak by Formule 1 en het die noodlot dit so bestuur dat sy en Eben iemand leer ken het wat kontak met F1-administrateurs het.
"Hierdie vriend het aan ons genoem dat F1 gewoonlik mense soek vir opleiding wanneer dit na Abu Dhabi kom. Die keuring was baie streng en ons moes toe mediese, kriminele en fiksheidverslae indien om in aanmerking te kom. Daarna het ons gegaan vir 'n moordende 13 weke opleiding waar ons elke detail geleer het van wat ons werk alles behels. Tydens die afgelope naweek se wedrenne het die adrenalien behoorlik gepomp met druisende enjins, die reuk van petrol en die luidrugtige skare wat dit alles 'n onvergeetlike ervaring gemaak het, " het White gesê.
Vanjaar was daar altesaam 23 F1-wedrenne wat wêreldwyd in Bahrain, Saudi Arabian, Australië, Azerbaijan, Miami, Monaco, Spanje, Kanada, Oostenryk, Brittanje, Hongarye, België, Nederland, Italië, Singapoer, Japan, Mexico, São Paulo, Las Vegas en Abu Dhabi beslis is.
Die driemalige F1-kampioen van Nederland in die Red Bull-span, Max Verstappen, het uiteindelik die wedren in Abu Dhabi gewen wat sy totaal op 'n allemintige 19 oorwinnings van die 23 wenrenne vanjaar te staan gebring het.
Die Red Bull-motor was vanjaar soos die vorige twee jare, onkeerbaar met Max Verstappen aan stuur. Foto: Sports SkyF1 facebook
Hy en sy spanmaat, Sergio Perez van Mexico, was ook verantwoordelik dat Red Bull die konstruksietitel inpalm het met 'n ongelooflike 860 punte. Die Spaanse renjaer van Ferrari, Carlos Sainz, was die enigste wenner van 'n F1-wedren vanjaar met Perez wat die ander drie wedrenne gewen het, 'n aanduiding van hoe dominerend Red Bull se renmotors was.
In die tweede plek was Mercedes met 409 punte, gevolg deur Ferrari wat kort op hul hakke was met 407 punte.
Die ander spanne wat sake vanjaar uitgespook het is MacLaren, Ferrari, Aston Martin, Haas, Alphine, Williams en Alpha Tauri.
So lyk die top-3 individuele puntestand vir F1-renjaers vanjaar:
- Max Verstappen (Red Bull) NED - 575
- Sergio Perez (Red Bull) (MEX) - 285
- Lewis Hamilton (Mercedes (GBR) - 234
Die sewemalige F1-kampioen van Mercedes, Lewis Hamilton (regs) en sy spanmaat, George Russel. Foto: GPfans.com
Wat Hamilton, 'n sewemalige kampioen (sommige sal sê agtmalige kampioen na omstrede beslissings by 2021 se Abu Dhabi-resies), se derde plek so merkwaardig maak, is die feit dat sy Mercedes vanjaar slegs die vyfde vinnigste renmotor op die baan was na Red Bull, Ferrari, MacLaren en Aston Martin.
Ongeag Hamilton se ouderdom van 38 jaar, het hy onlangs in die media aangedui dat hy die dag sal aftree as Afrika ook sy eie F1-wedren kan kry, verkieslik by die Kyalami-renbaan in Midrand (Johannesburg) wat voorwaar goeie nuus vir plaaslike petrolkoppe is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'