OUDTSHOORN SPORTNUUS - Drie van Oudtshoorn se groot sportgeeste, Hans van der Veen, Yolande de Villiers en Pieter Liebenberg, het onlangs die moordende Nedbank Desert Dash in Namibië aangepak.
Dié gewilde MTB-uitdaagfietsren is 393 km wat deelnemers in 24 uur moet voltooi.
Van die rekordgetal 251 solo-inskrywings wat vanjaar ingeskryf het, kon slegs 107 ryers die eindpunt bereik.
Die fietsryers het hul aanslag in Windhoek begin waarna hulle in Swakopmund eindig. Onderweg na die eindpunt ry die fietsryers onder meer deur Khomas Hoogland, Kuisevallei, Namibwoestyn en Maanlandskap.
Van der Veen was die enigste van die drie wat die wedloop enduit kon voltooi en daarin kon slaag om in die 75ste posisie in 'n tyd van 22 uur en 16 minute te eindig.
So erg was die wind dat De Villiers, vanjaar se SA MTB-maratonwenner, ongelukkig met slegs 135 km oor en in daardie stadium in die eerste posisie, noodgedwonge moes stop, omdat sy in daardie stadium nie meer voor haar kon sien nie.
Liebenberg het ook gedurende die eerste skof siek geword en moes na 98 km onttrek.
Volgens van der Veen was die gasvryheid van die mense en landskap onvergeetlik. "Alhoewel die hitte, sand en kopwind vir ons almal 'n groot uitdaging was, is dit 'n ervaring wat ek terdeë geniet het en beslis weer in die toekoms sal aanpak," het hy gesê.